‘n Oomblik waarvoor die inwoners van Pellissier al jare wag, is nou bietjie nader aan realiteit.
Werk het begin aan die Pellissier-reservoir, waarvoor daar al jare in die Mangaung-metro begroot word. Die geotegniese ondersoek op Brandkop naby die bestaande watertenk het nou begin.
Volgens Paul Kotze, DA-wyksraadslid, moet dié ondersoek bepaal hoe groot die reservoir kan wees en wat op die terrein moontlik is.

Dit volg op ‘n jarelange stryd van inwoners van Pellissier wat daaronder ly die oomblik as daar probleme met die watertoevoer vanaf Vaal Central Water is. Die enigste oplossing vir dié probleem is die bou van ‘n bykomende reservoir.
Kotze sê dit is nou reeds dekades dat inwoners van Pellissier en omliggende woonbuurte wateronstabiliteit ervaar weens die agteruitgang van infrastruktuur en die munisipale wanbestuur.
“Die oprigting van ‘n reservoir hier in Pellissier sal die eerste nuwe ontwikkeling van waterinfrastruktuur van die Mangaung-metro in twee dekades wees,” sê Kotze.
Hy sê die projek wat uiteindelik begin het, volg op jarelange druk van die DA en plaaslike woonbuurtverenigings soos Trots Pellissier en toegewyde inwoners wat hulle daarvoor beywer dat daar meer betroubare watervoorsiening aan die woonbuurt gelewer word.
“Hoewel die projek in beginsel jare gelede deur die Mangaung-metro goedgekeur is, het die projek nooit tot uitvoering gekom weens die metro se voortdurende geldelike onstabiliteit en onvermoë om voorwaardelike toelae van die nasionale departement van water en sanitasie te bekom,” sê Kotze.
Hy verduidelik die beplande reservoir met ‘n kapasiteit van tussen 20 en 25 miljoen liter, kan na verwagting water aan sowat 17 800 inwoners van Pellisier en Loerierpark verskaf en ook help met die verskaffing van water aan die informele woonbuurte in die suide van Mangaung.
“Die DA gaan aandring op deursigtigheid geldelike dissipline en konkrete tydlyne van die munisipaliteit.”
You must be logged in to post a comment.