Francois Williams
Suid-Afrika skuif van die huidige vlak 3 van die inperking af na vlak 1, het pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangekondig.
Die verkoop van drank sal weer in normale sake-ure toegelaat word, behalwe binne die nuwe aandklokreël wat voortaan van middernag tot 04:00 soggens sal geld.
Godsdienstige, politieke, sosiale en kulturele byeenkomste sal nou binnenshuis 100 mense kan huisves pleks van die huidige 50, en buitelugbyeenkomste moet tot 250 beperk word. Waar ’n perseel te klein is om dié getalle met ’n voldoende afstand tussen mense te akkommodeer, mag ’n perseel net 50% vol wees.
Die skerp afname in infeksies sedert einde Desember het die kabinet ná omvattende raadpleging laat besluit op die verslapping van die inperkingsmaatreëls.
Maar Ramaphosa het benadruk die slapper perke moenie beskou word as ’n opheffing van beskermingsmaatreëls teen die koronaviruspandemie nie.
Die bedreiging van ’n derde vlaag is steeds daar. Die manier hoe mense optree, gaan bepaal hoe erg dié vlaag sal wees.
In die afgelope week is net minder as 10 000 nuwe infeksies aangeteken, teenoor meer as 40 000 ’n maand tevore en die byna 90 000 nuwe gevalle in die laaste week van Desember, het Ramaphosa gesê.
Volgens hom vorder die inentingsprogram “uiters goed” en meer as 67 000 gesondheidswerkers is al ingeënt. ’n Nuwe besending van 80 000 dosisse van Johnson & Johnson se entstof het Saterdag (27/03) in die land aangekom.
Die persele waar inentings gedoen word, word in die komende week van 17 tot 49 uitgebrei, wat insluit hospitale in landelike gebiede waar landelike gesondheidswerkers ingeënt kan word.
Die volgende fase van die inentingsprogram sal teen einde April en begin Mei begin, vir onder andere ouer mense, noodsaaklike werkers en mense met onderliggende siektetoestande.
’n Ooreenkoms is onlangs met Johnson & Johnson gesluit om 11 miljoen dosisse entstof te kry, waarvan 2,8 miljoen in die tweede kwartaal gelewer sal word en die res deur die loop van die jaar.
Tot 20 miljoen dosisse van Pfizer se entstof sal vanaf die tweede kwartaal ontvang word. 12 miljoen dosisse word van die Covax-inisiatief gekoop.
Nagklubs is steeds gesluit en die dra van maskers is steeds verpligtend, het Ramaphosa gesê.
Die 33 grensposte wat tans gesluit is, sal gesluit bly. Net vyf lughawens sal vir internasionale vlugte oop wees: OR Tambo, Kaapstad, Koning Shaka, die Kruger-lughawe en Lanseria.
“Die nuwe virusvariant 501Y.V2 is nou die heersende variant in die land. Dit kan meer mense infekteer en plaas groter druk op die gesondheidstelsel. Daarom is die handhawing van ’n veilige afstand en die dra van maskers steeds kritiek,” het Ramaphosa gewaarsku.
Hoewel baie sakeondernemings steeds sukkel, baie mense nog nie weer werk nie en baie huishoudings steeds die effek van verlore inkomste voel, het Ramaphosa gewaarsku die staatsfinansies is onder uiterste druk en geldelike verligting soos die Werkloosheidsversekeringsfonds se hulpskema (Covid-19-Ters) -voordele en die R350-armoedetoelae kan nie onbepaald voortduur nie.
Die meeste perke op ekonomiese aktiwiteit is reeds opgehef en na verwagting sal die ekonomie stadigaan herstel.
“Namate verdere strukturele hervormings in die ekonomie ingestel word, sal die groen lote opkom en al ons energie en pogings moet nou ingaan om die ekonomie te laat groei.”
Ramaphosa meen die pandemie het nie die land se vasberadenheid en die unieke Suid-Afrikaanse gees geblus nie.
“Die land moet verenig en hoopvol bly.”