Liefhebbers van Deon Meyer se ikoniese karakter Bennie Griesel in talle misdaadrillers, sal verheug wees om te hoor dat dié karakter binnekort op die skerm gaan verskyn.
Ná die sukses van M-Net se TV-reekse soos Trackers (ook deur Meyer) en Reyka, verskyn die kort reeks Devil’s Peak, die vertaling van Meyer se boek Infanta, binnekort.
Hilton Pelser vertolk die rol van Bennie Griesel, die legendariese speurder-inspekteur van die Ernstige en Geweldsmisdaadeenheid in Kaapstad met sy skerp speursin en ewige stryd teen die drankduiwel.
Die boek is verfilm in ’n TV-reeks met vyf episodes waarvan die datum van vrystelling nog nie aangekondig is nie.
Hierdie keer is Bennie op die spoor van ’n vigilante-moordenaar wie se misdade die verbeelding van die publiek aangryp. Hoe nader hy aan die identiteit van die moordenaar kom, hoe dieper word hy ingetrek in ’n donker en gevaarlike wêreld waar niks is soos dit voorkom nie.
Ander akteurs in die rolverdeling is Sisanda Henna, Tarryn Wyngaard, Albert Pretorius, Gérard Rudolf, Shamilla Miller en Masasa Mbangeni.
Meyer is een van Suid-Afrika se internasionaal suksesvolste skrywer. Sy boeke is reeds in meer as 20 tale vertaal en hy is wêreldwyd ’n topverkoper. Hy het ook al verskeie toekennings, plaaslik en internasionaal, vir sy werk ontvang.
“Ek is verheug en trots om uiteindelik te sien hoe Bennie Griesel se wêreld ook op die skerm lewe kry, alles te danke aan ’n briljante en talentvolle plaaslike en internasionale span,” sê Meyer. “Devil’s Peak was die eerste boek waarin Bennie die protagonis, as’t ware die hoofspeler, geword het en hier is sy debuut op TV. Opwindende tye.”