Ds. De la Harpe le Roux (links) en André Meyer by die Tweetoringkerk. Foto: Lientjie Mentz


Die aanstelling van ’n operasionele hoof lui ’n nuwe tydperk vir Torings van Hoop in.

Ds. De la Harpe le Roux, uitvoerende hoof van die nieregerings­organisasie, wat die bediening aan die einde van 2008 begin het, is aangestel as die hoof van die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk se barmhartigheidsbediening in die Vrystaat.

Hy verduidelik dit behels die opbou en bestuur van ’n nuwe bediening in die Vrystaat wat komplimentêr sal wees tot die werksaamhede van bestaande welsynsorganisasies soos Engo, Vrystaat-Versorging in Aksie (VVA), Childline SA en ander.

“ ’n Voorbeeld hiervan is die ooreenkoms wat met Childline SA gesluit is waarvolgens NG gemeentes wat sukkel om met die bepaalde welsynsorganisasie kontak te maak ten tyde van ’n maatskaplike krisis, gehelp sal word om so gou as moontlik hulp te verkry.”

Met die nuwe taak wat hom opgelê is, staan hy nou effens terug met die dag-tot-dag-verpligtinge by Torings, met André Meyer wat as operasionele hoof daarvan aangestel is.

Een van die take waarop Le Roux hom toespits, is om ’n behoorlike rampbestuursprogram vir die NG kerke in die Vrystaat op te stel.

“Ons identifiseer nou vrywilligers en sentrale punte oor die Vrystaat heen waar noodvoorraad gehou kan word vir wanneer dit nodig is soos met die Jagersfontein-slikdamramp. Torings van Hoop was gereed en Le Roux kon die voorsiening van noodkos en ander hulp koördineer.

“Ons wil nou met ’n rampbestuurnetwerk op ’n gereedheidsgrondslag oor die provinsie heen gereed wees vir onvoorsiene omstandighede.”

Le Roux sê hulp wat op hierdie manier beplan word, is nie net vir mense van die NG Kerk nie.

“Dit is die hulp wat ons in die gemeenskap wil verskaf.”

Intussen gaan Meyer voort met die daaglikse sopkombuis waar soms soveel as 150 mense per dag ’n ete by Torings van Hoop kry.

Le Roux, wat die Leadership Foundation se streeksdirekteur vir Afrika is, doen ook mentorskap en begeleidingswerk van leiers en organisasies, soortgelyk aan Torings van Hoop in die groter kontinent van Afrika.

In ruil hiervoor skenk die stigting maandeliks ’n bedrag aan Torings van Hoop wat die restourasie en ontwikkeling van die kerkterrein en geboue moontlik maak.

Die bourekenaar Lodewyk Pretorius het by Torings betrokke geraak en fase een van die ontwikkeling van die terrein is reeds afgehandel. Dit het ingesluit die verf van die gebou, werk aan die kerk se dak en instandhouding van die kerkvensters se houtraamwerke.

Le Roux sê daar is ook nou beplanning om die kerkterrein verder te ontwikkel deur onder meer betonbankies te bou waar die mense wat die sopkombuis besoek, kan eet.

Die parkeerterrein gaan oorgedoen word, die ingangshek word vergroot, en twee labirint-tuine word in die vooruitsig gestel.

You need to be Logged In to leave a comment.