Nuwe seisoen vir kuns breek aan

’n Ou bekende is terug in die stad en op ’n sonnige herfsoggend gaan klop ek haar op.


’n Ou bekende is terug in die stad en op ’n sonnige herfsoggend gaan klop ek haar op.

Este Mostert maak haar groot houtdeur oop en verwelkom my met haar sagte aura en die innemende glimlag wat so tipies is aan haar.

Ek gaan pluk ’n bossie spinasie in haar agtertuin terwyl sy begin om vir ons ’n quiche te maak vir ontbyt.

Die praat borrel uit ons monde in honderde verskillende rigtings want ons wil stories inhaal en uitruil en terselfdertyd praat en “brainstorm” oor wat die toekoms inhou.

Ná ontbyt stap ons deur die mooi tuine van die Tuff Top-landgoed buite Bloemfontein waar Este woon en gaan kyk na die venues waar sy beplan om werksessies en kuns-uitstallings te hou.

Terug in haar lekker ligte, ruim kunsateljee moet sy eers deur ’n paar bokse, wat steeds onuitgepak staan ná haar onlangse verhuising terug na die stad, grou, op soek na haar foto-albums.

Ek het as kunsstudent naweke en vakansies by Este begin werk by die destydse Abri-ramery en galery. Sy was vir my ’n mentor wat diep spore in my lewe gelaat het.

Ons sit met ’n glasie wyn en kyk na foto’s van ons jongdae by die galery en raak nostalgies.

Ek het ’n paar vrae aan Este gestel.

Hoe onthou jy Bloemfontein en jou beginjare?

“Bloemfontein was vir my altyd die normale bestaan van kerk, skool, werk en veilige vriendskapskringe, asook die kosbare herinneringe van die werkspan in my ramery en galery wat deur hope lojale kliënte besoek is.

“Die omstandighede het my onwetend in ’n euforiese ruimte geplaas waarin ek gefloreer en sekuriteit ervaar het, deur net ‘Este Mostert’ te wees.

“So het daar egter ’n vinnige en lewensverander­ende wending in my pad gekom wat my, as ek nou terugkyk, net ryper gemaak het as mens en as kunstenaar.”

Hoe ervaar jy dit om terug te wees in Bloemfontein?

“Terug in Bloem kyk ek in dankbaarheid na my tussenin-reis.

“Ja ek is gelouter, geslyp en weer gevorm, totdat net my ware identiteit kon oorbly.

“Dit is vir my belangrik dat ek deur my proses van herhaaldelik val en opstaan, steeds kan hoop en inspirasie uitstraal.

“Smalend gesê, is ek nou ’n veel ouer en wyser weergawe van ‘Este Mostert.’

“Die lewe het my geleer dat al voel ek hoe onseker of alleen, ek altyd my vrede en vreugde kan terugvind deur vas te klou aan my verhou­ding met God.

“Dit is vir my ’n verrykende proses om my ervaring van my lewens-leerskool en kunstenaarskap te deel met mense deur kreatiewe aktiwiteite, werksessies en klasse.”

Wat het jou tussenin-reis behels?

“Ek het ons mooi land deurkruis, en ook in Frankryk ’n draai gemaak. Daar was soveel geleenthede en karakters op my pad van soveel draaie.

“Ja, dit is seker die beste ding as jy kan wortelskiet en leef, maar as jy nie vir dit bestem is nie, dan moet jy beweeg en vorentoe gaan in geloof.

“Die prys daarvan is dat jy ’n pad vol engele raakloop en geseën word deur soveel situasies en gebeure.

“Die grootste dankbaarheid is dat ek ’n talent het wat niemand van my kan weg­neem nie, en waardeur ek ’n bestaan kan maak op enige plek.”

Wate beleef jy met jou kuns?

“Elke kunswerk, van hier af vorentoe, sal ’n eerlike weergawe van my ervarings­wêreld weerspieël en ’n stukkie van my siel verklap.

Wat is jou planne vorentoe?

“Ek is terug! My basis is die groen graslande en parkagtige tuine van Tuff Top. Dit is hier waar ek binne die geriewe van die gasteplaas Tramonto, wat deel vorm van Tuff Top, gaan klasse aanbied.

“Uitstallings, werksessies en kreatiewe funksies vorm alles deel van die beplanning.”

You need to be Logged In to leave a comment.