Nuwe skietbaan vir AfriForum buite Bloemfontein ingewy

’n Nuwe skietbaan wat spesiaal vir AfriForum buite Bloemfontein uitgelê is, is die naweek ingewy tydens die organisasie se dertiende protospankursus.


’n Nuwe skietbaan wat spesiaal vir AfriForum buite Bloemfontein uitgelê is, is die naweek ingewy tydens die organisasie se dertiende protospankursus.

Dit is ook die eerste kursus van sy soort, wat in Bloemfontein aangebied word.

Negentien AfriForum-buurtwaglede van Bloemfontein asook die tak in Nottingham Road in KwaZulu-Natal, is vir dié week lange kursus uitgesoek om hul opleiding hier te ontvang.

Hul name word nou gevoeg by die meer as 220 gespesialiseerde buurtwaglede, bekend as protospanlede, wat tot dusver deur AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling opgelei is.

Die Nuwe AfriForum-skietbaan is deur plaaslike AfriForum-lede uitgelê. Die baan is spesifiek vir opleidingsdoeleindes van AfriForum se buurtwaglede ontwerp en beskik oor pasgemaakte geriewe vir die opskerp van buurtwaglede se skietvernuf.

Op dié unieke skietbaan is AfriForum se spesialis-buurtwaglede onderwerp aan realistiese simulasies met hindernisse soos doringdraad, sementblokke, afsperrings en voertuigwrakke.

Protospanlede se gespesialiseerde opleiding bied aan hulle ’n voorsprong in gemeenskapsveiligheid, taktiese vuurwapenhantering, praktiese selfverdediging, bloedingbeheer, verskeie relevante regsaspekte, misdaadtoneelhantering, die opstel van voertuigbeheerpunte en onttrekking onder vuur. Die kursus fokus ook op die insameling van inligting, die opstel van doeltreffende observasiepunte en radiogebruik.

Protospanne funksioneer as reaksiespanne vir AfriForum-buurtwagte om as eenhede vinnig en doeltreffend op noodsituasies waar gemeenskapsveiligheid bedreig word, te reageer. Diepgaande opleiding aan dié lede is noodsaaklik.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, is die protospankursus taai en só opgestel om lede voor te berei op uitdagende misdaadverwante situasies waarmee hulle moontlik gekonfronteer kan word. Lede moet byvoorbeeld ’n reeks nagskietoefeninge suksesvol voltooi. As deel van dié sessies word flitsende ligte en brandende motorbande ingespan om voornemende protospanlede te disoriënteer en die oefening so realisties as moontlik te maak.

Hierdie tipe oefeninge, waar lede onder druk moet funksioneer en met skerp ammunisie skiet, stel hulle bloot aan situasies wat hulle in die werklikheid kan verwag. Dit is vir ons baie belangrik om hierdie opleiding ten alle tye realisties, doeltreffend én veilig aan te bied,” sê Broodryk. “Ons protospanlede bevind hulself gereeld in soortgelyke situasies en dit is bemoedigend om te sien hoe hierdie lede tydens hul opleiding dit reeds bemeester en kophou in uitdagende omstandighede.

AfriForum het tot dusver reeds meer as 220 protospanlede opgelei, wat landwyd ’n aktiewe rol speel in AfriForum se 177 buurt- en plaaswagstrukture. Nagenoeg 11 000 vrywilligers is betrokke by dié strukture.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.