Die tydperk waarop die DA die eerste keer ’n speaker in die Mangaung-metro gehad het, het vandag in ’n chaotiese raadsvergadering tot ’n einde gekom.
Opposisiepartye is glad nie oortuig dat die regte prosedures gevolg is of dat daar vir die regte aanbevelings gestem is nie.
Raadslid Papi Twhala van die African Transformation Movement (ATM) het ’n mosie van wantroue teen die speaker Maryke Davies ingestel wat vandag in ’n spesiale raadsvergadering gedien het. Twhala het die mosie in ’n brief op 13 September aan die kantoor van die waarnemende stadsbestuurder gestuur.
Volgens Thwala is die mosie gebring omdat Davies volgens die ATM opgetree het teen die landswette, die wetgewing van plaaslike regering sowel as staande reëls en ordereëls van die Mangaung-metro. Die ANC en die AIC het die mosie ondersteun.
Pulane Mohibidu van die ANC is in die begin van die vergadering as waarnemende speaker verkies om die vergadering te lei. Daarna is ’n vergadering, wat vinnig moes wees en uiteindelik meer as ses uur geduur het, gekenmerk deur raadslede wat ure lank gekibbel het oor orde-reëlings en die wettigheid van die bewoording op die dokumente.
In haar verweer teen die mosie teen haar, het Davies gesê dat sy nooit enige reëls van die raad oortree het in die tydperk sedert sy op 29 Maart as speaker gekies is nie.
Mohibidu het beslis dat die mosie teen Davies in ’n openbare stemming moes geskied – dit ten spyte daarvan dat daar geen amptelike aanbeveling gemaak is waarvolgens die mosie moes dien nie.
In die stemming het 52 raadslede vir die mosie en 37 teen die mosie gestem. Die VF Plus, DA en die Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD) het saam teen die mosie gestem.
DA-raadslid Dulandi Leach het kort ná die stemming gesê het die DA het slegs gestem oor of die mosie ter tafel gelê moes word, en dat die aanbevelings nie sê dat Davies haar pos moet ontruim of dat daar vir die mosie gestem moet word nie.
Mohibidu het daarna voortgegaan om ’n nuwe speaker te kies, hoewel daar nie so ’n punt op die agenda was nie.
Die DA het op hierdie stadium die raadsvergadering verlaat en het nie deel gehad in die stemming van die nuwe speaker nie.
ANC-raadslid Lawrence Mathae is daarna onbestrede as die nuwe speaker van die metro aangewys nadat daar geen ander kandidate was nie.
Johan Pretorius, die DA se koukusleier in die Mangaung-metro, het ná die vergadering gesê die ATM het ’n swak bewoorde mosie ingedien.
“Die aanbevelings is dat die mosie ter tafel gelê word en dat ’n speaker per geleentheid gekies moet word,” sê Pretorius oor die bewoording in die aanbeveling wat gedien het.
Hy sê die DA se leierskap in die metro sal môre oor die besluite op die raadsvergadering besin en hulle sal regsadvies inwin oor stappe wat moet volg.