Hier is nou ’n oulike manier om die gesin bymekaar te kry om gehaltetyd saam deur te bring.
Candice Quenet, een van die ontwikkelaars van ’n nuwe eg Suid-Afrikaanse interaktiewe speletjie, sê dit is juis vir gesinne geskep sodat hulle tyd saam kan deurbring en mekaar kan aanmoedig.
“Ons het ook die vyf liefdestale, naamlik diens, fisieke aanraking, gehaltetyd, geskenke en omgeewoorde, by die speletjie ingesluit sodat gesinne mekaar se liefdestale kan leer. Wanneer jy ’n kind se liefdestaal ken, sal jy hom of haar beter kan aanmoedig en beloon.”
Die speletjie werk só: Vir verskillende goeie dade, prestasies en take wat hulle in die huis verrig, verdien die kinders in die gesin skyfies met syfers op. Wanneer hulle genoeg van die syferskyfies bymekaar gemaak het, kan hulle een van die aksiekaarte met meegaande beloning “koop”.
“Elke gesin bepaal self hoeveel elke aksiekaart werd is. Die kaarte wat baie gesog is, verg die meeste punte en dié wat minder gewild is, minder punte. Wanneer ’n aksiekaart klaar gebruik is, word dit in die houer teruggesit vir ’n volgende keer.”
Van die aksiekaarte sluit doendinge in soos: “Koop vir my ’n geskenk”, “Kom ons vertel familiestories” en “Aandjie vir twee” (vir Ma en Pa).
Candice sê die eerste pak, wat in Engels beskikbaar is, sal later gevolg word deur ’n tweede en derde fase fase 2 en 3vir tieners en hul ouers.
Besoek treasuretime.co.za om meer oor die speletjie te lees en inligting te kry oor waar dit beskikbaar is. Die speletjie kos R199.
) Intekenaars van Bloemnuus se nuusbrief wat die kans wil staan om die speletjie te wen, kan die e-pos waarin die nuusbrief aan hulle gestuur is na bloemnuus@media24.com aanstuur (“forward”), saam met die rede vir waarom hulle die speletjie graag wil wen. Dit dien as bewys dat die leser wat inskryf wel op die nuusbrief ingeteken is.