By die opening van die nuwe hibriede vaskulêre teater in Life Rosepark is van links dr. Balekile Mzangwa (uitvoerende hoof van die Universitas- Akademiese Hospitaal), dr. Asha Malan (vaskulêre chirurg), sr. Evodia Manthoali (teaterbestuurder) en Hein Rossouw (hospitaalbestuurder).

Die eerste hibriede vaskulêre teater in die sentrale deel van Suid-Afrika is Vrydag 23 Januarie by die Life Rosepark-hospitaal geopen.

Prof. Asha Malan, vaskulêre chirurg by Life Rosepark en die eerste vroulike president van die Vaskulêre Vereniging van Suidelike Afrika, sê die bou van dié teater is ‘n droom wat waar geword het.

Die nuwe hibriede vaskulêre teater in Life Rosepark-hospitaal. FOTO’S: Lientjie Mentz

“Dit is veel meer as net ‘n nuwe operasieteater – dit is ‘n stap vorentoe vir gesondheidsorg in sentraal-Suid-Afrika. Te lank het geografie uitkomste bepaal. Vandag sê ons wêreldklas vaskulêre sorg hoort hier naby die huis.”

Hospitaalbestuurder Hein Rossouw sê die teater is nie bloot ‘n opgradering van die hospitaal se geriewe nie – dit is ‘n belegging in die toekoms van gesondheidsorg vir die Vrystaat.

“Van die begin af was ons visie om ‘n ruimte te skep waar innovasie, pasiënt-gesentreerde sorg en kliniese uitnemendheid kan saamkom. Ek is trots op die span wat dit moontlik gemaak het en ek is dankbaar teenoor Life Healthcare vir die ondersteuning van ‘n projek wat vaskulêre operasies gaan verander.”

In die teater is van links dr. Asha Malan (vaskulêre chirurg), Ghena Ludick en Anita van der Walt (radiografiste). FOTO: Lientjie Mentz

Die middelpunt van die teater is die Philips Azerion FlexArm-stelsel, wat uitsonderlike, regstreekse beelde op grootskermtelevisies vertoon. Nie net stel dit die chirug en span in staat om baie presisie-werk te doen nie, dit verminder blootstelling aan bestraling. Hierdie tegnologie stel klinici in staat om aan te pas en behandeling met millimeter-akkuraatheid, veral in komplekse gevalle wat die aorta en karotis-arteries en visserale vate betref.

Malan verduidelik die teater maak dit moontlik om in die middel van ‘n prosedure met ‘n ander te begin, indien nodig.

Die hibriede teater vorm ook die grondslag van die Vrystaat Gevorderde Aortasentrum, ‘n gespesialiseerde sentrum, ‘n inisiatief toegewy aan die behandeling van komplekse aorta-siektes deur minimaal indringende tegnieke.

So kan prosedures wat voorheen 10 tot 12 uur se operasie vereis het, nou deur klein insnydings uitgevoer word, wat die tyd wat ‘n operasie duur aansienlik verkort en die risiko en hersteltyd in lyn bring met internasionale beste praktyke.

Malan sê operasies word reeds die afgelope twee maande suksesvol in die teater gedoen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article