’n Nuwe premier van die Vrystaat lewer Dinsdag (28/02) die provinsiale staatsrede nadat ’n verkiesing Vrydag (24/02) in die wetgewer plaasgevind het.
Mxolisi Dukwana het Vrydag sy intreerede in die wetgewer gelewer.
Daar was talle vrae oor wie die provinsiale rede sou lewer nadat voormalige premier Sisi Ntombela vroeër verlede week bedank, maar dit eers Vrydag amptelik was.
’n Sitting van die wetgewer is aanvanklik Donderdag gehou, maar moes na Vrydag aangeskuif word waar die verkiesing plaasgevind het en Dukwana ingehuldig is.
Dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaatse Wetgewer, het Vrydag ná die inhuldiging gesê gesien in die lig van hoe sy voorganger die provinsie gelos het, is dit duidelik dat die nuwe premier dit moeilik gaan vind om die talle probleme in die provinsie te bestuur.
Dukwana was vroeër die LUR van samewerkende regering en tradisionele sake. Jankielsohn sê sy tydperk as LUR is gekenmerk deur agteruitgang van munisipaliteite en dienslewering ten spyte van talle beloftes.
Armand Cloete, die lid van die provinsiale wetgewer van die VF Plus, sê Dukwana en die ANC se beleidspunte sal nie die provinsie uit verskeie verknorsings kan red nie.
“Dukwana bly ’n lojale lid van die ANC. Die regerende party is in sy kern korrup en sy aanwysing as premier gaan nie enige veranderinge in die provinsie bring nie.”
Die amptelike opening van die wetgewer vind Dinsdag om 10:00 by die Universiteit van die Vrystaat se Vista-kampus plaas.


