Nuwe wiele kos dalk net R30

Staan die kans om die eienaar van ’n splinternuwe Renault Kwid Life te word, en bring só jou kant om mense in nood in die Vrystaat te help.


By die Renault Kwid Life op die bekendstelling van Engo se Projek van Hoop vir 2024, gehou op Vrydag 16 Februarie, is van links Thabo Mokoena (handelaarshoof van Renault Bloemfontein), Carolien Koen (Evolve Audit and Advisory), De Wet Claassens (hoof- uitvoerende direkteur van Engo) en Jeannine van Zyl (bestuurder van Sentraal24).Foto: Lientjie Mentz

Staan die kans om die eienaar van ’n splinternuwe Renault Kwid Life te word, en bring só jou kant om mense in nood in die Vrystaat te help.

Die Projek van Hoop word vanjaar ’n 12de keer aangebied, en Engo Vrystaat het 2024 se projek op Vrydag 16 Februarie bekend gestel.

Dit word met die samewerking van Sentraal24 (waarvan die plaaslike koerante BloemNuus, BloemExpress, Vista en VrystaatKroon publikasies is), Renault Bloemfontein en Evolve Audit and Advisory aangebied.

Om die kans te staan om die Renault Kwid Life ter waarde van R196 999 te wen, moet weldoeners ’n skenking van minstens R30 doen.

Benewens dié motor wat in Desember ’n nuwe eienaar gaan kry, gaan R1 000 maandeliks in ’n gelukstrekking weggegee word vir een skenker aan die projek. Hoe meer skenkings van R30 iemand dus doen, hoe groter is die kans dat hy of sy vir die maandelikse prys ook in aanmerking kan kom, én hoe groter die kans om die motor te wen.

Die projek duur nege maande, met 15 November as die sluitingsdatum.

Vyf finaliste sal einde November aangekondig word. Die uiteindelike trekking word op 6 Desember gedoen.

Evolve sal die hele proses kontroleer en verifieer.

Mense kan oplet na waar hulle die Renault Kwid Life gemerk met Engo se Projek van Hoop-bewoording raaksien en dan die projek ondersteun deur daar ’n R30-skenking te doen. Die motor sal op feeste en geleenthede soos Bloemskou vertoon word.

Skenkings kan by enige van Engo se programme en op die webwerf engo.co.za gedoen word. Besoek ook Sentraal24 se BloemNuus-kantoor by Pres. Reitzlaan 107 in Westdene, Bloemfontein; Renault Bloemfontein in O.R. Tambostraat; of die kantoor van Evolve Audit and Advisory hiervoor.

Mense kan gerus die media en die sosiale media dophou vir ander geleenthede waarop skenkings gedoen kan word.

Engo het 67 verskillende sentrums, huise en kantore reg oor die Vrystaat heen wat by dié projek gaan baat vind.

Kinders, bejaardes, gesinne, behoeftiges in gemeenskappe oor die Vrystaat heen, mense met gestremdhede, siek mense in hospitale en mense wat graag kinders wil aanneem of laat aanneem, sal almal uit die Projek van Hoop voordeel trek.

De Wet Claassens, hoof- uitvoerende direkteur van Engo, sê met elke bydrae aan dié groot projek word ’n verskil in die lewe van bykans 200 000 mense meegebring.

Stuur ’n epos na info@engo.co.za of skakel 060-548-5543 vir meer inligting oor die projek.

Kliek hier om jou kaartjie van R30 nou te kry: Engo

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.