By die splinternuwe Suzuki S-Presso wat een gelukkige klant van Pick n Pay Preller Walk op die Carols with the Stars-geselligeheid op 1 November kan wen, is die borge, van links, Selma Pretorius (Radio Rosestad), Duncan Pentz (Pick n Pay Preller Walk), Anché de Bruin (advertensiekonsultant van BloemNuus), John Pentz (Pick n Pay Preller Walk), Benita Jacobs (Willem Postma) en Jeannine van Zyl (hoofbestuurder van Sentraal24, waaronder BloemNuus val).Foto: Lientjie Mentz


Die Drakensberg-seunskoor is die gaskunstenaar op vanjaar se Carols with the Stars, wat op Vrydag 1 November aangebied word.

Die jaarlikse geselligheid, aangebied deur Pick n Pay Preller Walk, bied aan klante die kans om dié gratis geleentheid by die Laerskool Willem Postma by te woon en ’n bydrae te lewer om mense in nood met kosskenkings te help.

Klante kan hulle ook vanjaar met ’n inkopiestrokie vir aankope van R200 of meer van Pick n Pay Preller Walk inskryf om die kans te staan om ’n splinternuwe Suzuki S-Presso 1.0 GL te wen.

Die houer waarin klante hul strokies vir die trekking kan gooi sodra hulle by Pick n Pay Preller Walk inkopies gedoen het, is van vandag af by die winkel in Dan Pienaar beskikbaar.

Duncan Pentz, mede-eienaar van Pick n Pay Preller Walk, sê die stigter van die groep, Raymond Ackerman, het geglo dat hulle ’n verantwoordelikheid het teenoor die gemeenskap wat hulle ondersteun.

“Met die konsert gee ons terug aan almal wat ons ondersteun,” sê Pentz.

Jeannine van Zyl, hoofbestuurder van Sentraal24, waarvan die gemeenskapskoerant BloemNuus ’n publikasie is, sê Pick n Pay Preller se jaarlikse Carols with the Stars onderstreep die belangrikheid van familie en samesyn, maar nog meer as dit: mededeelsaamheid en dit wat die mense in ’n gemeenskap vir mekaar kan beteken.

“Dit is presies wat vir ons byBloemNuus saak maak, vandaar ons betrokkenheid as gedruktemedia-borg.”

Deelnemers wat hulle wil inskryf om die kans te staan om die Suzuki S-Presso te wen, skryf hul naam en van, identiteitsnommer (ID) en kontaknommer agterop hul inkopiestrokie voordat hulle dit in die houer gooi. Die bepalings en voorwaardes vir deelname is op die houer.

Inskrywing vir die trekking sluit op 31 Oktober om 20:00.

Vyf finaliste se strokies sal op die aand van Carols with the Stars getrek word, en elkeen kry dan ’n motorsleutel in die hand. Die een wie se sleutel die Suzuki S-Presso oopsluit, sal met dié spoggerige motor huis toe kan ry.

Benewens die optrede deur die Drakensberg-seunskoor, wat ’n besonderse program gaan uitvoer, tree die skoolkore van die Laerskool Willem Postma en die Eunice High School ook op.

Die Drakensberg-seunskoor sal met sy optrede in Bloemfontein pas terug wees van ’n toer na Engeland, waar die koor van 20 tot 30 September gaan optree.

Gaste by Carols with the Stars bring stoele of komberse en piekniekmandjies en geniet die pragtige musiek onder die Bloemfonteinse sterrehemel.

Willem Postma reël ook dat daar kosstalletjies op die geleentheid is waar gaste iets te ete en ’n warm koffie kan koop.

“Die feestelike atmosfeer verseker ’n aand van ontspanning en gemoedelikheid saam met ons hartsmense, terwyl soveel hande saam uitreik om minder­bevoorregtes se swaarkry ligter te maak. Dit is vir ons ’n voorreg om Pick n Pay Preller Walk hierin te ondersteun en sodoende ’n aand saam met ons lesers te geniet,” sê Van Zyl.

Die liefdadigheidsorganisasies wat ondersteun gaan word met skenkings van nie-bederfbare kos wat gaste by die hekke kan doen, sal later aangekondig word.

Teken die datum 1 November nou reeds aan vir ’n aand van mooi musiek en lekker Kersliedjies saamsing.

Radio Rosestad is die radio-borg vir die geleentheid, en die Laerskool Willem Postma stel soos in die verlede sy sportveld en geriewe beskikbaar.

Hou BloemNuus dop vir meer nuus oor Carols with the Stars.

  • Een leser kan ’n geskenkbewys van R500 wen deur BloemNuus se Facebook-blad te besoek en die skakel na hierdie berig oor die Carols with the Stars te like en met vriende te deel.

You need to be Logged In to leave a comment.