Vyf finaliste is aangekondig wat vanaand, 5 Desember, elkeen ’n beurt gaan kry om ’n splinternuwe Renault Kwid Life ter waarde van R196 999 oop te sluit, met een wenner wat die nuwe eienaar van dié motor gaan wees.
Dit is die hoogtepunt van Engo Vrystaat se Projek van Hoop wat saam met Novus Media Gemeenskapsnuus (wat die gemeenskapskoerante BloemNuus, BloemExpress, VrystaatKroon, Vista en NoordKaapBulletin insluit), Renault en Evolve Auditing and Advisory aangebied is.
James Mosea van Bloemfontein, Jean du Plessis van Welkom, Ina Hennop van Klerksdorp, Jackie Henning van Bloemfontein en Elize Rokebrand van Welkom se name is getrek en hulle sal vanaand aan die finale trekking deelneem.
Elkeen sal ’n motorsleutel ontvang, maar net een se sleutel sal die motor kan oopsluit en aanskakel.
Die Engo Projek van Hoop is vanjaar vir die 12de keer aangebied.
Die geld wat ingesamel is met die skenkings van R30 waarvoor elke skenker ’n kaartjie gekry het om in die trekking te wees, word aangewend om ’n verskil in die lewe van byna 200 000 mense te maak.
Kinders, bejaardes, gesinne, behoeftiges in die gemeenskap oor die Vrystaat heen, sowel as siek mense in hospitale en mense met gestremdhede word deur die inkomste van Engo se Projek van Hoop ondersteun.
Hou BloemNuus se aanlynblad op Netwerk24 asook BloemNuus van 12 Desember dop om te sien wie uiteindelik die gelukkige wenner van die Renault Kwid Life is.