’n Nuwe winkel is begin Junie by die kantore van Kinderwelsyn in Aliwalstraat geopen.
In die winkel word gebruikte baba- en kinderklere asook speelgoed teen goeie pryse verkoop.
Lize du Plooy, van Kinderwelsyn Vrystaat en Childline Free State, sê hulle het besluit om ’n behoefte aan te spreek om mense te help wat op soek is na goeie gebruikte klere.
“Ons eerste prioriteit bly die kinders en gesinne aan wie ons dienste verskaf,” sê sy.
“Hulle sal steeds gratis klere en ander benodigdhede ontvang soos nodig. Geen nuwe klere sal in die winkel verkoop word nie, maar sal tot voordeel van dié wat dit nodig het, aangewend word.”
Sy sê die opbrengs van die winkel gaan in dié welsynsorganisasie se verskeie projekte teruggeploeg word.
“Dit sal wonderlik wees as die publiek vir ons kan bly skenkings gee. Ons het veral ’n behoefte aan klere vir ouder kinders van 7 tot 13 jaar.”
Die winkel sal in Junie elke dag van 09:00 af oop wees vir die publiek. Rig navrae aan Du Plooy by 051-430-3311.