OG gee vir Mangaung ’n rillerverslag ná verlies van R900 miljoen

Die ouditeur-generaal het vir die Mangaung-metro vir die finansiële jaar van 2021’-22 selfs ’n nóg slegter uitslag gegee as die vorige jaar.


Die ouditeur-generaal het vir die Mangaung-metro vir die finansiële jaar van 2021’-22 selfs ’n nóg slegter uitslag gegee as die vorige jaar.

Odwa Duda, leier van die Vrystaatse kantoor van die ouditeur-generaal, het tydens ’n spesiale raadsvergadering Maandag (13/02) gesê die metro het agteruit beweeg met ’n ongekwalifiseerde uitslag in die 2020’-21-boekjaar na ’n gekwalifiseerde uitslag vir 2021’-22.

Die verslag wys dat die metro en Centlec in die 2022-boekjaar die jaar met ’n verlies van byna R900 miljoen afgesluit het. Die groep se laste oorskry sy bates met R485,44 miljoen.

Hy sê dit is duidelik dat daar dringend ingryping in die metro moet plaasvind en dat kontroles ingestel moet word.

Die gemiddelde terugbetalingstydperk aan verskaffers het verder van 162 tot 165 dae verswak. Die metro se skuld aan Bloemwater het op 30 Junie 2022 op R568,8 gestaan.

Een van die dringende uitdagings wat die metro het, is dat daar in die laaste boekjaar vakatures in 91% van die sleutelposte was.

Die verslag sê ook daar is skuld van R1,8 miljoen wat waarskynlik nie ingewin sal kan word nie.

Talle van die departementshoofposte word tydelik gevul deur lede van die nasionale ingrypingspan wie se termyn op 28 Februarie verstryk.

Boonop is daar talle doelwitte wat vir dié boekjaar gestel was, wat glad nie bereik is nie het nie. Talle projekte waarvoor beplan is, het nooit tot uitvoering gekom nie.

Duda het gesê daar is kommer oor die metro se nakoming van wetgewing.

Hy het ook gesê dat die oudit-uitslag nie kan staatmaak op die dokumente wat ontvang is nie.

“Die onstabiliteit en gereelde veranderinge in die kantoor vererger die metro se geldsake.”

Hy het wel gesê die Mangaung-metro is een van net drie munisipaliteite wat fondse het vir die begroting.

Die uitvoerende burgemeester, Mxolisi Siyonzana, wat binnekort vervang gaan word deur die provinsiale ANC-komitee, het in die vergadering uitgevaar teen die nasionale ingrypingspan wat volgens hom geen verandering gebring het nie en nasionale tesourie wat ’n begroting opgestel het wat nie uitvoerbaar is nie.

Hy het op die vergadering gesê geen van die ingrypings – eers provinsiaal en nou nasionaal – het ’n verskil gemaak aan die bestuur van die metro nie.

Laluma Titi-Odile, burgermeesterskomiteelid vir finansies in die metro, het gesê werkers dreig omdat hulle oortydbetaling eis. Dit nadat streng kontroles ingestel is om dié oortydbetalings te bestuur.

Sy het gesê daar is geen bewyse dat R60 miljoen se oortyd wel gewerk is nie.

“Ons het nou ’n stelsel waarvolgens oortyd eers deur toesighouers goedgekeur moet word. As werkers nie by die reëling hou nie, kry hulle nie oortydbetaling nie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.