Om 100 jaar oud te word is nie vir sissies nie.
Só het komediant Leon Schuster Sondag (27/02) gesê toe hy en sy broer, Johann, saam met familie en inwoners hul ma se 100ste verjaardag by Westerbloem vier.
Tannie Jessie Schuster (née Grimbeek) is op 28 Februarie 1922 op Renosterkop naby Beaufort-Wes gebore.
Haar sussie, Susan, het op 17 Desember 102 jaar oud geword. Hul twee broers, Matt en Ryk, is reeds oorlede. Hul ma is oorlede toe die kinders vier tot ses jaar oud was, en pa Matt het weer getrou. Hy en stiefma Olga is albei oorlede toe hulle in hul 80’s was.
Ná skool het Tannie Jessie verpleging in Rustenburg studeer. Daar het sy haar man, Ernest (Ernie), op ’n dansparty ontmoet.
“Hulle was lief vir dans in die goeie ou dae,” sê Johann.
In 1945 het die egpaar na Bloemfontein verhuis, waar hulle jare lank in Wilgehof gewoon het. Hier het hulle Leon en Johann grootgemaak.
Leon vertel dat daar destyds – toe hy nog op skool was – ’n klop aan die deur was.
“Dit was die wêreldbekende hartchirurg dr. Chris Barnard. Hy het by sy eertydse nooi kom vra of sy nog foto’s van hul grootwordtyd op Beaufort-Wes het.”
Leon sê dié twee het glo in haar matriekjaar saam wegkruipertjie gespeel en langs mekaar agter ’n bos weggekruip.
“Net daar het die liefdesvonke gespat,” sê Leon.
Albei broers is dankbaar dat dié kys nooit uitgewerk het nie.
Tannie Jessie sê sy het ’n lekker lewe gehad en dat sy maar met haar twee seuns kwaai moes wees. Ernest was ’n handelsreisiger wat baie op die pad was, en sy moes dikwels vir lang tye alleen die fort hou. Leon sê sy was ma en pa en ook sportafrigter.
Sy ma was ook lief vir die Karoo en hulle het gereeld vakansietye by hul ooms in Beaufort-Wes gaan kuier.
“Dan het sy ons die veld ingevat en gewys hoe kambro lyk en proe.”
Leon sê dit is ’n groot voorreg om jou ma se 100ste verjaardag saam met haar te vier.
“Daar is min kinders wat kan sê dat hulle saam met hul ma haar 100ste verjaardag gevier het. Soos een van die tannies vir my kom sê het: Sy is Jesus se wonderwerk.”
Leon sê hy het sy sin vir humor by sy ma gekry.
“Sy het dikwels poetse gebak en die draak met mense gesteek.”
Johann sê hulle is dankbaar dat sy so lank vir hulle gespaar is.
“Ons prys die Here vir so ’n wonderlike geleentheid. God se genade is onbeskryflik groot.”
Tannie Jessie het sewe kleinkinders (waarvan een oorlede is) en sewe agterkleinkinders.