Olimpiades leerskool vir jong wiskundiges

Leerlinge wat uitblink in wiskunde-olimpiades is onlangs vir hul harde werk op die jaarlikse Prestige-wiskunde-prysuitdeling beloon.


Leerlinge wat uitblink in wiskunde-olimpiades is onlangs vir hul harde werk op die jaarlikse Prestige-wiskunde-prysuitdeling beloon.

Die geleentheid deur drs. Elsie Schoombie en Anelize van Biljon is op Dinsdag 28 November vir die 13de keer aangebied.

Die Universiteit van die Vrystaat se departemente van wiskundige statistiek, aktuariële wetenskap, rekenaarwetenskap en informatika, asook die Nautilus-projek, beloon jaarliks uitblinkers in wiskunde.

Schoombie verduidelik daar is jaarliks verskillende olimpiades op die wiskunde-kalender. Dit wissel van plaaslike en provinsiale olimpiades tot nasionale en internasionale olimpiades.

“Een van die mees toeganklike olimpiades vir beginners is die Living Maths Olimpiade wat in November plaasvind. Leerlinge vanaf gr. R kan daaraan deelneem, en dit bied aan hulle ’n platform om na meer gevorderde olimpiades soos die kwartaallikse Nautilus-olimpiades deur te dring,” verduidelik sy.

Die Nautiluskampe is ’n provinsiale olimpiade wat vir Vrystaatse en Noord-Kaapse leerlinge van gr. 3 tot gr. 12 in Bloemfontein aangebied word.

Die nasionale wiskunde olimpiades sluit die South African Mathematics Challenge (SAMC) in wat uit drie uitdunrondes bestaan. Leerlinge van gr. 4 tot gr. 7 neem hieraan deel sodat die tien topleerlinge in elke graad aangewys kan word.

Die hoërskool-ekwivalent hiervan is die South African Mathematics Olympiad (Samo).

In hierdie afdeling is daar ook drie uitdunrondes, sodat tien finaliste in onderskeidelik die junior- en seniorafdeling aangewys word. Die finaliste kry silwer medaljes en die beste kandidaat kry goud.

In al hierdie olimpiades oefen leerlinge met die oog op insluiting in die internasionale olimpiade-spanne.

Schoombie sê ná Covid-19 word die internasionale wiskunde-olimpiades steeds aanlyn geskryf.

Die Primary World Mathematics Contest (PWMC) wat jaarliks in Junie of Julie in Hong Kong plaasvind, is een van hierdie olimpiades.

Vier spanlede uit die Vrystaat en Noord-Kaap het aanlyn vanuit Bloemfontein aan die PWMC deelgeneem. Hulle is Tim Chang van die Hoërskool Ladybrand, Kara Kruger (Laerskool Fichardtpark), Helio Chen (Grey-kollege) en Lucia Fourie (Eunice Primary School).

Die International Mathematics Competition (IMC) het ’n afdeling vir junior spanne wat uit laerskoolleerlinge bestaan, en senior spanne wat uit leerlinge in gr. 8 tot gr. 10 gekies word. Hierdie olimpiades vind jaarliks in ’n ander land plaas, en is vanjaar vir die derde keer aanlyn aangebied. Bulgarye was die gasheerland.

Nasionaal is 16 leerlinge vir die vier junior spanne gekies, en 16 leerlinge vir die vier senior spanne. Die Vrystaat en Noord-Kaap het twee leerlinge vir dié spanne opgelewer: Lineé Lubbe (gr. 8, Hoërskool Jim Fouché) en Skyler Wongfatt (gr. 10, St. Patrick’s CBC, Kimberley).

Jana Rossouw, ’n gr. 11-leerling (Jim Fouché) is gekies as een van die ses lede van die span wat Suid-Afrika in die Pan African Mathematics Olympiad (PAMO) in Rwanda verteenwoordig het.

Leerlinge en onderwysers kan navrae oor die olimpiades doen deur ’n WhatsApp-boodskap na 082-926-6674 te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.