Ek het die verkeer op ’n Sondagoggend in Groenvlei tot stilstand laat kom.
Ek het ’n stukkie teer gekoop in die middel van die Kenilworthpad naby die Tempevliegveld.
Jip, jy het reg geraai. Ek is een van daardie wilde, woeste motorfietsryers wat Sondae my weg na en van die Biker’s-kerk baan.
Daardie betrokke Sondagoggend het ’n Stem my vriendelik, dog nadruklik, gevra om die borsplaat van geregtigheid aan te trek. Die gedagte was vreemd, maar in my gees het ek gehoorsaam en die beskermende wering aangetrek. Natuurlik was ek in my volle motorfietsmodering uitgevat.
Min het ek geweet dat ek ná die erediens daardie dag die beskerming dubbel en dwars sou benodig.
’n Stilstaande voertuig in die rybaan het my genoop om die remme van my Honda-motorfiets oormatig hard te trek. Die remme het gesluit en my fiets het gegly. Ek kan slegs grepe van die ongeluk onthou.
Volgens ooggetuies het ek deur die lug getrek; my fiets het bolmakiesie geslaan en teen die stilstaande motor gebots. Ek kan herroep dat ek soos ’n wafferse Moto GP-renjaer gerol het en uiteindelik sowat 15 m van my fiets voor die aankomende verkeer te lande gekom het.
Dit was ’n nagmerrie-ervaring wat ek vir geen motorfietsryer toewens nie. Dit was my eerste ernstige val in 22 jaar. Lang storie kort: Ek het geen bene gebreek nie, net ’n slegte wond aan my regterknie opgedoen. Dié is dadelik in die teater toegewerk en sorgvuldig gespalk. Tot my groot verligting kon ek die volgende dag huis toe gaan.
Terwyl ek in die pad gelê het, in die ambulans en nóg later in die hospitaal, het soveel gedagtes deur my kop gedwarrel. Ek het sonder twyfel besef ’n wonderwerk het voor my oë afgespeel. Dit was God se genade-in-aksie in hoë definisie.
Ten spyte van my fiets wat in flarde in die pad gelê het, my knie wat gepyn het en die vooruitsig dat ek ’n paar weke buite aksie sou wees, het ek my Hemelse Vader sonder ophou bedank.
Die invalshoek waarmee ek en jy na ’n slegte situasie kyk, bepaal hoe ’n mens daardeur sal oorleef. Dinge kon daardie dag soveel erger wees; ’n groter, vinniger motorfiets kon op die karretjie afgepyl het. Ek wil die uiteinde daarvan nie eens in my gedagtes laat afspeel nie. My beserings kon veel erger gewees het, as dit nie vir die beskermengele van my Hemelse Vader was nie.
Ons, die gelowiges, moet die verspreiders van goeie nuus wees. Daarom deel ek met dankbaarheid in my hart hierdie slegte, maar uiters wonderbaarlike ervaring met ’n ieder en ’n elk wat ek teëkom.
En ek vertel skaamteloos my getuienis veral aan diegene wat wonder of daar ’n barmhartige God is. Want God se lig val met ’n hoek van hoop en verhelder die donkerste prent.