p

Nicky en Carike van Zyl is Dinsdag (13/12) danksy Bloemfonteinse sakelui met ‘n baie spesiale troue getrakteer.

Net toe dit lyk of hul droomtroue in ’n nagmerrie gaan ontaard, het Bloemfonteinse sakelui tot hul redding gekom.

Carike en Nicky van Zyl is Dinsdag (13/12) op die De Oude Kraal-landgoed buite die stad getroud – dieselfde plek waar hulle in 2014 op die Wildskosfees ontmoet het en ook waar hulle in 2020 verloof geraak het.

Die jong paartjie se trouplanne het byna lelik skeef geloop nadat hulle in 2021 ’n advertensie in ’n bruidsgids gesien het waarin hulle ’n troue ter waarde van R500 000 kon wen.

Hulle het hulle hiervoor ingeskryf en moes kort daarna uitvind dat hulle R40 000 vir die troue moes opdok; die helfte daarvan glo om die koste te dek vir die span van Droom Troue. Dié program is vier jaar lank in ’n advertensie-segment op die DStv-kanaal Via vertoon, maar die kontrak is in Mei beïndig.

Die egpaar Nicky en Carike van Zyl ná die huwelikseremonie op die De Oude Kraal-landgoed Dinsdag (13/12). Foto: Lientjie Mentz

Carike het gou uitgevind dat die reëlings om deel van Droom Troue te wees nie net vir haar nie, maar ook vir talle ander bruidspare, ’n nagmerrie is.

Sy het aanvanklik gevra dat hul troue tussen 16 en 23 Desember vanjaar moes wees. ’n Datum van 17 Desember is in ’n stadium met hulle bevestig, maar daar kon nie vir hulle gesê word waar die troue gehou sou word nie.

Intussen het die span van Droom Trouehulle teen November laat weet dat hul troue na 23 Maart uitgestel is, en steeds was geen plek vasgestel nie.

Reeds vroeër vanjaar toe baie klagtes oor Droom Troueop die sosiale media en selfs op ’n televisieprogram die ronde begin doen, het Carike met haar niggie Melanie Moolman, wat op De Oude Kraal werk, gesels.

“ ’n Maand gelede het ek en Nicky besluit om self aan die troue te begin reël, en Melanie en die span van De Oude Kraal en hul verskaffers was eenvoudig fantasties.”

Carike sê maande se WhatsApp-bookskappe, heen en weer, met die mense van Droom Trouehet skielik na ’n vreeslik omslagtige proses gelyk nadat die span van De Oude Kraal alles in ’n japtrap gereël het.

“Hulle was fantasties, en laat alles net so maklik lyk. Ek was twee keer by De Oude Kraal en alles is gereël.”

Carike, wat Maandag (12/12) graad gevang het, sê sy het intussen talle lang gesprekke met die span van Droom Trouegehad om te sê dat sy liewer haar eie troue gaan reël.

Hulle het vir haar verlede week in ’n telefoongesprek gesê dat hulle bereid is om van die dienste te betaal vir die R40 000 wat hulle reeds ontvang het, maar dit is nou te laat.

“Ons het gedink ons gaan hierdie ongelooflike troue wen, maar eindelik het ons net ongelooflike omgee van die mense in Bloemfontein gekry,” sê Carike.

Van die mense wat gehelp het om hul droomtroue te bewaarheid, is Chané Moffat van BLOM, Natasha van Heerden van Flower It Bloem, die fotograaf Anja Aucamp, videograaf Rico Myburgh en Stefan van Biljon van Creative Kilowatt.

p

Die troue is binne ‘n maand by die De Oude Kraal-landgoed gereël.

You need to be Logged In to leave a comment.