Twee Bloemfonteiners tel onder die nege maatskaplike werkers van oor die land heen wat op Woensdag 16 Maart – Internasionale Maatskaplikewerkdag – as “hoopdraers” van hul gemeenskap gekroon is.

Die #Hoopdraers-eerbewyse, die geesteskind van Solidariteit Helpende Hand en Solidariteit se Maatskaplikewerkersgilde, is vanjaar die eerste keer toegeken.

Volgens Marisa Engelbrecht, sektorhoof van Solidariteit se Beroepsgildes, is die doel om erkenning te gee aan maatskaplike werkers wat ’n onblusbare passie vir hul werk het.

Die publiek kon sedert Februarie maatskaplike werkers van hul omgewing op Helpende Hand se webwerf benoem.

Die wenners is tydens Helpende Hand se jaarlikse Wil-om-te-help-werksessies aangekondig. Op dié werksessies word maatskaplike werkers die geleentheid gebied om hul kennis en vaardighede uit te brei.

Die twee Vrystaters wat ’n #Hoopdraer-eerbewys ontvang het, is Chantell Wiesner en dr. Estie Groenewald.

Wiesner, ’n Bloemfonteiner, word beskryf as iemand met ’n passie vir maatskaplike werk. Sy is gedrewe en staan uit as iemand met ’n hart vol liefde en begrip.

Tussendeur haar besige program as statutêre maatskaplike werker by Vrystaat-Versorging in Aksie het sy onlangs ook ’n honneursgraad in sielkunde verwerf. Sy is altyd vriendelik en behulpsaam en beskikbaar om haar kollegas met raad en inligting by te staan.

Groenewald, eienaar van ’n private praktyk in die stad, het ’n eerbewys ontvang vir haar volgehoue bydrae tot die ontwikkeling van maatskaplike werk, spesifiek in die veld van supervisie en bestuur. Sy het in 1971 haar loopbaan in dié bedryf begin, en in 1992 en 1996 onderskeidelik ’n meesters- en doktorsgraad in maatskaplikewerksupervisie en -bestuur behaal.

Sy het altesaam 26 jaar se ondervinding in kinder- en gesinsorgdienste en is by die opleiding van en toesighouding oor studente betrokke.

Sedert 2003 het sy gehelp om meer as 4 000 maatskaplike werkers oor die land heen op te lei sodat gehaltediens gelewer kan word.

Die ander maatskaplike werkers wat vereer is, is Andri Smith (Oos-Kaap), Marlene Walkden (Gauteng), Marcel van Dyk (Wes-Kaap), Tanya van der Walt (Noord-Kaap), Izanda Ferreira (Gauteng), Dina Harmse (Mpumalanga) en Dr. Hannie Schoeman (Suid-Kaap).

Dr. Elsha Hermann, Helpende Hand se hoof van maatskaplike ontwikkeling, sê sy is beïndruk met die eerste ontvangers van die eerbewyse.

“Maatskaplike werkers is belangrik, want hulle tree in die gemeenskap as veranderingsagente op. Hulle tree as beïnvloeders en fasiliteerders tussen die gemeenskap en netwerkdienste op. En, as dit moet, tree hulle as vegters vir menseregte op. Hulle is die beskermhere van die samelewing se hart en verdien om raakgesien te word.”

You need to be Logged In to leave a comment.