Danksy skenkings is daar al vordering gemaak met die reuse-onderneming wat die Vriende van Westdenepark-bewarea aangepak het om die park waar Westdene aan Dan Pienaar grens te omhein.
Die doel van die omheining van ongeveer 700 m is om die park vir besoekers en omliggende inwoners veilig en skoon te hou.
Michael Deutschmann, bestuurder van die Westdene-woonbuurtvereniging, sê inwoners en ondernemings het tot dusver al R77 500 geskenk, en daar is reeds net minder as 70 m se heining gekoop – wat nou opgerig gaan word.
“Die Mangaung-metro gaan vroeg volgende week die bome en takke verwyder waar die nuwe heining gaan kom. ’n Kontrakteur het Woensdag die gebied besigtig en sal begin om die heining op te rig sodra die gedeelte opgeruim is,” sê hy.
Ongelukkig het mense reeds weer hul intrek in die beboste ruimtes hier geneem en begin om skuilings op te rig.
Verlede jaar is ’n groot opruimingsprojek begin, en die skuilplekke en die rommel wat om die skuilings opgehoop het, is verwyder.
Deutschmann sê die enigste manier om die probleem van onwettige inwoners te bekamp, is om die hele park wat onder Mangaung-parke se Adopt-a-Park-program deur die Westdene-woonbuurtvereniging aangeneem is te omhein en toegangsbeheer toe te pas.
Die park strek tussen Albrechtstraat en Genl. Hertzogstraat, aan die anderkant van die koppie.
Die Vriende van die Westdenepark-bewarea het op 9 Februarie ’n piekniek in die park aangebied sodat meer mense kan sien waarvoor daar gewerk word.
Rig navrae oor hoe om die projek te ondersteun aan Deutschmann deur hom by 071-348-5353 te bel.