Hoewel daar planne is om die noordelike stortingsterrein van Bloemfontein te verskuif, moet korttermynplanne beraam word om die impak wat rook en gasse van die stortingsterrein op inwoners het, te beperk.
Inwoners in die noorde van Bloemfontein het Woensdag (21/06) by die Hoërskool Bloemfontein vergader om te praat oor die voortdurende probleme wat dié stortingsterrein veroorsaak.
Louis de Villiers, ’n inwoner van Bayswater en omgewingskonsultant, het ’n versoekskrif opgestel met eise aan die Mangaung-metro. Dit herhaal talle klagtes van ’n vroeëre versoekskrifte wat al sedert 2018 opgestel is en aan die metro oorhandig is.
Volgens die nuutste versoekskrif wil inwoners weet of die luggehalte gemonitor word en of dit beskikbaar is vir inwoners se insae.
Inwoners sê brande kom nog daagliks op dié stortingsterrein voor. Hulle vra dat ’n gekwalifiseerde persoon aangestel word om die luggehalte te monitor en verslae beskikbaar te stel, en dat dit voor Augustus vanjaar gebeur.
Die versoekskrif vra ook ’n vergadering met die bestuur van die Mangaung-metro om die sluiting en tydraamwerk van die stortingsterrein met inwoners te bespreek.
Inwoners het nou die geleentheid om hul klagtes op skrif te stel vir die dokument wat opgestel gaan word en aan die departement van omgewingsake asook die afdeling vir vullisverwydering van die Mangaung-metro en die munisipale bestuurder, gestuur sal word.
“Ons wil sien dat dié stortingsterrein gesluit en verskuif word,” het De Villiers op die vergadering almal se mening uitgespreek.
Francois Nel, waarnemende hoof van vullisverwydering by die Mangaung-metro en deel van die nasionale ingrypingspan, het by die vergadering gesê geld is reeds bewillig in ’n driejaarplan om die stortingsterrein te rehabiliteer en te verskuif.
“Daar is nie veronderstel om berge vullis te wees nie,” sê hy. Volgens hom is daar R52 miljoen beskikbaar gestel vir die aankoop van voertuie vir die kompaktering van vullis op die terrein wat binne agt tot 16 weke afgelewer sal word en die verwerking van vullis sal verbeter.
Hy sê dit is belangrik dat die skeppers van die vullis in die stad verantwoordelik gehou word en dat elkeen ’n bydra moet maak om minder vullis na die stortingsterrein te stuur.
Een van die beste maniere om dit te doen, is om plastiek by privaatwonings te skei en dit in deursigtige plastieksakke uit te sit vir informele herwinnaars om bymekaar te maak.
Nel sê informele herwinnaars kan soveel as 40% van vullis van die stortingsterrein weghou en hulle moet op ’n meer formele manier ondersteun word.
Hy sê van 1 Julie gaan daar ’n permanente toesighouer by die stortingsterrein aangestel word.
Nel sê dit is ook belangrik om die weegbrûe weer in werking te stel.
Intussen is daar vandag ook baie rook op die suidelike stortingsterrein waar vullis brand en in ’n dag rookwolk veroorsaak wat oor die suide van die stad hang.
Die skakel na die versoekskrif wat aanlyn ingevul kan word, is https://forms.gle/vZWDJx7Tr3BjhU9Z6.