Ompad lei na ware droom

Vanjaar se keuse van die tema vir die Martie du Plessis-skool se Aand van die Sterre kon nie meer gepas gewees het nie.


Vanjaar se keuse van die tema vir die Martie du Plessis-skool se Aand van die Sterre kon nie meer gepas gewees het nie.

So het die skoolhoof, Francois van Heerden, gesê op die 21ste geleentheid waarop dié spog-aand op Donderdag 12 September by die skool aangebied is.

“Ons tema vir vanjaar – Padlangs met ’n ander pad – word op soveel maniere benadruk,” het hy gesê.

Onbewus van hoe die tema van die aand spreekwoordelik gaan waar word, het Van Heerden vooraf verduidelik dat die tema behels dat ons soms sorgvuldig ons roete beplan, net om te ontdek dat omstandighede ’n ander pad mag verg. “Selfs ons beplande bestemming moet dalk aangepas word weens die omstandighede waarin ons ons bevind.”

Die hoofspreker wat die aand sou optree, Ollie Terblanche, ’n rugbyspeler wat in Januarie 2015 verlam gelaat is ná ’n rugbybesering, moes dringend ’n operasie ondergaan en het die Sondag voor die geselligheid laat weet dat hy dit nie kon haal nie.

Van Heerden sê hy het dadelik gedink aan ’n oudleerling van Martie wat deesdae hoë hoogtes bereik.

Jason Mc Mahon, wat in 2018 Martie du Plessis se dux-leerling was en vier onderskeidings in sy matriek-eksamen behaal het, het verlede Dinsdag inderhaas na Bloemfontein gevlieg en saam met sy ma, Deirdre, aan sy toespraak begin werk.

Miskien is Jason se storie nie juis padlangs nie, maar sy roete luglangs het die gehoor gaande gehad.

Die kind wat in gr. 3 by Martie du Plessis begin skoolgaan het en dit besonder moeilik gevind het om te lees, spel en te skryf weens disleksie, het vandag sy droomwerk met ’n blink toekoms wat voor hom lê.

Op die geleentheid het hy gesê sy pa, Alan, het hom vertel van al die bekende mense wat disleksie het en steeds wêreldberoemd geword het.

“Ek het besluit om my uitdaging in ’n droom te omskep.”

Ná skool het Jason telkens teleurstellings beleef, selfs nadat hy ’n volle beurs ontvang het om meganiese ingenieurswese te studeer.

“Die deure het een vir een vir my toegegaan. Ek onthou toe van ’n praatjie wat ek in gr. 8 gehoor het oor ’n loopbaan in lugvaart.”

Hy het in Augustus 2021 ’n kursus as lugvaart-tegnikus by die 43 Lugvaartskool in Port Alfred gevolg en die kursus met ’n gemiddeld van 90% voltooi.

“My droom het waar geword. Niks kon my nou stop nie, het ek gedink.”

Sedert Februarie verlede jaar werk Jason by Cape Town Helicopters, en hy het reeds sy lisensies as lugvaart-onderhoud­ingenieur (LAME) verwerf.

Jason sê sy droom sou nie waar geword het as dit nie vir die groot ondersteuning van onderwysers by Martie du Plessis was nie.

Een van die projekte wat juis baie gehelp het met sy akademie op skool, gaan nou opgegradeer word. Geld wat met 2024 se Aand van die Sterre ingesamel word, gaan gebruik om 42 tien-jaar-oue rekenaars wat leerlinge tydens eksamens gebruik, op te gradeer.

Martie du Plessis het sedert sy ontstaan in 1957 die landskap van onderwys verander deur hoëgehalte hoofstroom-onderrig te bied aan leerlinge wat die hoofstroom kurrikulum kan bemeester.

Dit sluit leerlinge in met serebrale gestremdheid, fisieke gestremdhede, spesifieke leergestremdhede en leerling wat hoog-funksionerend op die outismespektrum is.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.