Sunika Bruwer (17), ’n leerling aan die Eunice High School.Foto: Verskaf


’n Tiener van Bloemfontein is op Kersaand as die wenner van die sangkompetisie en TV-program Begin Sing gekroon.

Sunika Bruwer (17), ’n leerling aan die Eunice High School, is in die slot-episode van die program op VIA, DStv-kanaal 147, as wenner aangewys. Hoewel die opnames vir dié episode reeds einde November gemaak is, sê Sunika dit was spesiaal om die oomblik van voor af te beleef.

Sy sê sy sing al vandat sy nege jaar oud is.

“Ek het net eendag in die kar begin sing en nie weer opgehou nie.”

Waar dit aanvanklik vir haar vreesaanjaend was om op die verhoog te klim, is sy nou meer tuis op die planke.

Volgens Anthonie Bougas, vervaardiger en ontwikkelaar van die idee agter Begin Sing, was dit veral die omvang van Sunika se stem wat haar in die eerste plek geplaas het.

“Sy kan baie hoog én baie laag sing en het net ’n ongelooflike vibrato. Sy kan ook in ’n verskeidenheid style sing.”

Begin Sing is al vyf maande aan die gang en het reeds drie wenners en heelwat talent vir die Suid-Afrikaanse musiekbedryf opgelewer.

Bougas sê dat sangers van enige ouderdom hulle op die webtuiste kan inskryf. Vir die laaste reeks is sowat 800 inskrywings ontvang. Hieruit is die 100 topsangers aangewys, waaruit kykers hul gunsteling kon kies.

Die beoordelaars is die sangers Reynardt Hugo, Willem Botha en Bianca le Grange.

As wenner ontvang Sunika R25 000, asook ’n beginnerspakket ter waarde van R50 000, wat ’n oorspronklike liedjie, geskryf deur die sanger en liedjieskrywer Pierre Rossouw, ’n ateljee-opname van die liedjie, ’n musiekvideo en ’n televisieonderhoud insluit.

You need to be Logged In to leave a comment.