Die VF Plus eis in ’n brief aan die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, dat die provinsie tot rampgebied verklaar word ná die verwoestende veldbrande wat die naweek deur die provinsie gewoed het.
Johann (Savage) Breytenbach, hoofbestuurder van die Vrystaatse Sambreelorganisasie vir Brandbestryding (FSUFPA), sê daar was Maandag geen nuwe brande nie en teen laatmiddag was taakspanne besig om die veldbrand by Clarens onder beheer te bring.
Boere en lede van Working on Fire (WOF) het Sondag brande by Verkeerdevlei, Theunissen, Harrismith, Marquard, Brandfort en Clarens bestry. Die N1 tussen Bloemfontein en Winburg was ’n tyd lank gesluit toe brande langs dié hoofweg gewoed het.
Breytenbach sê die hoeveelheid veld wat die naweek gebrand het, kan nog nie bepaal word nie.
Armand Cloete, VF Plus-lid in die provinsiale wetgewer, sê boere het nou dringend hulp nodig.
“Die Rampbestuurswet gee aan die premier die bevoegdheid om ’n provinsie tot rampgebied te verklaar sodat provinsiale hulpbronne beskikbaar gestel kan word om diegene wat geraak word by te staan,” sê hy in ’n nuusverklaring.
Roy Jankielson, die DA se premierskandidaat in die Vrystaat, het Dinsdag gesê die landbousektor probeer nog vasstel hoeveel skade daar was met verlies aan weiding, veeverliese en skade aan infrastruktuur.
Cloete sê hoewel burgerlike organisasies reeds boere met onder meer voer help, is dit uiters noodsaaklik dat die provinsiale regering homself ook tot bystand aan boere verbind.
Breytenbach het aan Marietjie Gerickevan Netwerk24 gesê van 1 Mei tot 20 September was daar 5 192 veldbrande in die Vrystaat, met sowat 427 798 ha wat afgebrand het.
Die presiese omvang van die naweek se veldbrande moet nog bepaal word, maar Breytenbach skat tussen 30 000 ha en 50 000 ha is vernietig.