’n Erge lekplek wat langer as twee weke rioolwater soos ’n rivier in Geoge Lubbestraat (M10), Hamilton, af laat vloei het, is deur ’n plaaslike onderneming herstel.
Bykomend tot die reënwater, het die sterk stroom rioolwater hier die belangrike toegangsroete vol diep slaggate gelaat.
Werknemers in die omgewing sê die stank was onhoudbaar.
Ná talle versoeke het die metro steeds nie reageer om die lekplek te herstel nie en het ’n onderneming ingespring om dit op 7 Januarie te herstel.
Werknemers van ondernemings en fabrieke in die omgewing sê die lekplek pla al sedert 2019, en dit is toe al by die Mangaung-metro aangemeld.
In Desember het George Lubbe- en Piet Humanstraat, asook persele in die omgewing, in ’n “rioolrivier” verander.
Werknemers sê die riool wat oral gevloei het, was reeds teen 24 Desember ’n reuse-probleem.
Nabygeleë ondernemings, onder meer ’n bakkery, het op 28 Desember die situasie probeer aanmeld, maar die oproepsentrum van die metro se telefone het blykbaar net gelui – niemand het geantwoord nie.
Die riool wat in die straat in die rigting van die treinspoor gevloei het, het diep slaggate uitgekalwe. Een van die ondernemings het dit intussen tydelik met stene opgevul.
Werknemers sê talle motors se bande word in die slaggate stukkend getrap.
Johan Pretorius, DA-raadslid, sê die metro se proses is aan die gang om teer te bekom, en hopelik sal daar binnekort daarmee begin word om die stad se slaggate op te vul.