Van die ondernemings in Nuwe Ooseinde het op 12 Oktober reuse-werk gedoen om die hope vullis al langs die spoorlyn in Mackenziestraat op te ruim.
Die Nuwe Ooseindeforum is onlangs gestig om instandhouding hier te doen.
Met die hulp van ondernemings soos Disa Turf, Kemach, Pro Construction en Enviro-TechSA en ander ondernemings is sowat 415 m³ se vullis weggery. Die Mangaung-metro het ook ’n vragmotor beskikbaar gestel om te help om die vullis te verwyder.
Dit was veral by die T-aansluiting van Frikkie Fouriestraat en by die draai aan die onderpunt van Mackenziestraat waar dié opruimwerk ’n groot verskil gemaak het.
Duane de Lange van Enviro-TechSA sê dit was ’n groot spanpoging.
“Ons probeer om die omgewing hier om ons ondernemings skoon te hou en ’n verskil te maak.”
Hy sê egter daar het kort ná hul opruiming verlede week weer mense gekom wat onwettig vullis hier stort.