Op die openingsgeleentheid van die Martie du Plessis-skool se Ad Lucem-sentru, is van links Marnus van Straaten (gr. 12), Francois van Heerden (skoolhoof), Elmarie Prinsloo (raad van trustees), Johan Laubscher (raad van trustees) en Thapelo Chaphi (gr. 12).Foto: Lientjie Mentz


’n Splinternuwe sentrum vir tegniese vakke wat by die Martie du Plessis-skool aangebied word, is op 12 April by dié skool geopen.

Die Ad Lucem-sentrum, waar die vakke ingenieursgrafika-en-ontwerp, landbou-tegnologie, ontwerp en tegnologie nou in een blok klaskamers aangebied word, is onlangs voltooi en op ’n geselligheid by die skool ingewy.

Van die vakke is in ander klaskamers oor die skoolterrein heen aangebied, en nou is alles onder een dak.

Ontwerp is ’n nuwe vak wat ook nou hier aangebied word.

By van dié klaskamers is daar ook groot werksruimtes, soos by dié van landbou-tegnologie, waar leerlinge hul praktiese werk kan doen.

Elmarie Prinsloo, voorsitter van die raad van trustees, sê hulle het die skoolhoof, Francois van Heerden, gevra oor ’n droom wat hy vir die skool het. Hy wou graag so ’n afdeling by die skool ont­wikkel.

“Vandag word hierdie droom vir leerlinge van Martie du Plessis waar,” het Prinsloo op die openingsgeleentheid gesê.

Nog ’n trustee, Johan Laubscher, het kareebome en vaderlandswilge geskenk wat op die terrein voor die nuwe gebou geplant is.

Van Heerden sê almal wat op die een of ander manier by die projek betrokke was, gee opreg om vir die leerlinge van Martie du Plessis.

“Die onderwysers wie se klasse hier is, het deur die vakansie hard gewerk om alles reg te kry vir wanneer die skool oopmaak. Daar is van die seuns wat ook ’n handjie bygesit het.”

You need to be Logged In to leave a comment.