Perspektief. Nie ’n onbekende of ’n vreemde woord nie.
Tog het ek nog nooit gewonder oor die dieper betekenis van die woord perspektief nie. Ook nie oorweeg dat die woord eintlik die rigting van en jou uitkyk op die lewe kan bepaal nie.
Tot die dag van ’n begrafnis. Die begrafnis van ’n briljante 20-jarige vrou in die fleur van haar lewe, met nog so baie om te bied.
In ’n oogwink is haar pragtige glimlag nie meer daar nie, haar blou oë nie meer helder nie, haar stem en lag stil.
My eerste gedagte toe ek van die ongeluk hoor, was: Hoe gaan haar ouers dit hanteer en sonder haar oorleef?
Ek is stomverbaas toe haar pa self op die begrafnis oor sy dogter praat. Hy praat so mooi oor hul dogter, sussie, kleindogter, niggie en vriendin wat nou by haar Hemelse Vader is.
Hy verduidelik dat die enigste manier hoe dit moontlik is om voor in die kerk op sy eie dogter se viering van haar lewe te praat, is omdat hy en sy gesin die gebeure in die regte perspektief plaas.
Die HAT sê perspektief is die vermoë om dinge in hul verhouding en belangrikheid tot mekaar te sien.
Op die begrafnis verduidelik die pa. Sy dogter is nie dood nie. Net haar aardse liggaam is dood. Sy woorde dat die regte perspektief van haar dood gaan maak dat hulle nie verbitterd is nie, ruk my.
Ek besef dit is hoe haar gesin dit regkry om so rustig te wees. Hulle is hartseer, en ’n mens sien dit in hul hele wese, maar dit is nie ’n hopelose hartseer nie. Hulle het steeds hoop.
Wat gee vir hulle hierdie hoop? Dit is hul perspektief van die gebeure wat vir hulle die hoop gee.
Perspektief is ’n kunsvorm wat ons in ons lewe kan toepas. Die kuns om dit wat ek beleef met die regte perspektief ’n ander betekenis te gee.
Watter raam sit ek om dit wat met my gebeur – die sleg en die goeie kan in ’n raam met die regte perspektief gesit word.
Selfs iets wat baie sleg is, kan in iets beters omskep word.
Perspektief op dit wat met ’n mens gebeur, kan hoe jy die lewe ervaar, beïnvloed.
Dit is perspektief wat gehelp het dat Victor Frankl, die bekende psigoterapeut en iemand wat Auschwitz oorleef het, besef het dat alles van ons weggeneem kan word, maar nie ons vryheid om ons houding in elke omstandigheid te kies nie.
Ons het ook net soos hierdie ouers, wie se dogter in die fleur van haar lewe dood is, die keuse met watter perspektief ons die uitdagings van die lewe gaan hanteer.
Hulle het gekies om haar uitsonderlike lewe te vier, en al is hul hart seer, bepaal dit nie die uitkoms van die res van hul lewe nie.
Wat is my en jou houding elke dag? In die gewone rompslomp van die gejaagde lewe – watter keuses maak ek en jy om ons perspektief te bepaal?
Maak ’n bewustelike wilsbesluit met watter perspektief jy die mooi en die swaar van die lewe gaan aandurf.
Dit voel vir my of perspektief iets is wat ons van jongs af vir ons kinders moet leer. Soos die woorde dankie en asseblief. Dít word van jongs af vir kinders geleer, want sonder dankie en asseblief leer kinders nie respek nie.
Daarom, lewe so dat jou kinders van jongs af kan sien en besef hulle het ’n keuse oor hoe hulle die lewe wil aanpak.
Leer die kunsvorm van perspektief van jongs af vir kinders.
Besluit self wat vir jou die regte perspektief is en hoe om situasies en die lewe te hanteer.