Ondersteuners terug op pawiljoene

Jy kan nou weer jou gunsteling-span in die nuwe Toyota-uitdaagreeks in die Toyota-stadion gaan ondersteun – mits jy ’n kaartjie in die hande kan kry en teen Covid-19 ingeënt is.


Rugby

Joggie Jansen, oud-Springbok, en Casper van der Merwe, die vlagman van Brandfort, kan nie wag om Saterdag hul geliefde Cheetahs op die Vrystaat Toyota-stadion te ondersteun nie. Foto: Mlungisi Louw
Jy kan nou weer jou gunsteling-span in die nuwe Toyota-uitdaagreeks in die Toyota-stadion gaan ondersteun – mits jy ’n kaartjie in die hande kan kry en teen Covid-19 ingeënt is.

Al kan jy punte op die bord nie met bier in die stadion vier nie, is dit bloot ’n bysaak vir stoere ondersteuners van die Vrystaat-Cheetahs wat weer vir die eerste keer daar kan gaan sit en rugby kyk.

“Ons wil net in die stadion wees en ons span ondersteun. Al die ander goed is bysake,” het Joggie Jansen, een van die Vrystaat se groot helde, gesê toe hy Maandag (08/11) sy kaartjies by die Vrystaat Toyota-stadion se kaartjiekantoor kon gaan afhaal.

Sy wit trui lê gereed om weer oor die kop getrek te word en hy is so opgewonde soos in 1976 toe hy sy span gehelp het om die Curriebeker te wen.

Hoewel net 2 000 ondersteuners Saterdag hul plekke op dié stadion kan inneem om die manne in oranje en wit te ondersteun, sal die alombekende “Vrystaaaaaat” weer ná byna twee jaar in die Toyota-stadion weerklink.

Die Toyota-uitdaagreeks is ’n nuwe soort rugby-toernooi: een waar elke oorwinning ’n prys van R250 000 verdien en waar spelers alles in die stryd werp om kontantbonusse vir plofbare spel te wen.

Spelers wat die meeste duikslae maak, lynbreke maak of oor die voordeellyn gaan en balle op die grond steel/omkeer bewerkstellig, wen kontantpryse.

Die “Speler van die wedstryd” wen R10 000 vir elke wedstryd en die ondersteuner wat #ToyotaLegendSupport die meeste tydens die wedstryd op sosiale media plaas sal R10 000 wen en as “Ondersteuner van die wedstryd” gekroon word.

“Ons is opgewonde om die Toyota-uitdaging aan te bied en om weer ondersteuners terug te verwelkom in die Toyota-stadion,” het Harold Verster, besturende direkteur van die Vrystaat Cheetahs Dinsdag (09/11) tydens ’n spesiale geselligheid by die Toyota-stadion gesê.

“Dit is ’n inisiatief van Vrystaat Rugby met die buitengewone ondersteuning van Toyota Suid-Afrika. Toyota SA lewer ’n baie groot geldelike bydra om dit moontlik te maak en dit plaas ons in die kollig van internasionale rugby en van ons ondersteuners wat graag weer die Toyota-Cheetahs in aksie wil sien.

“Daar heers weer nuwe opwinding in ons geledere en dit is lekker om uit te sien na wedstryde wat voorlê en dat ons self ook beperkte getal toeskouers kan innooi om hierdie wedstryde en spanne te sien. Daar is opwindende wedstryde wat voorlê teen die Westelike Provinsie, Bacelona van Spanje, die Haaie en Baia Mare van Roemenië.”

Verster sê Vrystaat het nie net teruggesit en wag vir die Curriebeker wat 15 Januarie 2022 begin nie en werk hard om weer internasionale rugby te speel.

Regulasies, soos voorgeskryf deur die departement van samewerkende regering en SA Rugby se riglyne vir die terugkeer van toeskouers na sportbyeenkomste, bepaal dat slegs 2 000 toeskouers in die stadion toegelaat word.

Toeskouers moet die volgende toon om op ’n wedstryddag toegang tot Toyota-stadion te kry:

* ’n Geldige rugbykaartjie – kaartjies is te koop teen R100 by die kaartjiekantoor in Toyota-stadion.

* ’n Inentingsertifikaat (die een met ’n QR-kode)

* ID-dokument of rybewys

* Alle toeskouers moet maskers dra.

Toeskouers word versoek om vroeg na die stadion te kom. Hekke open 1 uur voor afskop en sal 1 uur ná die eindfluitjie sluit.

Toeskouers kan toegang tot die stadion kry van Kingsway- of Att Horak-laan om binne die stadion te parkeer.(“Eerste kom, eerste maal”)

Daar sal een toegangspunt met vier kontrolepunte wees waar ondersteuners ’n geldige inentingsertifikaat, ID en rugbykaartjie moet toon en ’n masker dra.

Ondersteuners sonder die vereiste dokumente of maskers sal nie in die stadion toegelaat word nie.

Beamptes sal toeskouers na hul gereserveerde sitplekke op die hoofpaviljoen begelei om sosiale afstand te handhaaf. Losiehouers word net toegelaat om 50% van die losie-kapasiteit te gebruik.

* As ’n toeskouer siek voel of enige van die Covid-19-simptome het, word hy/sy aangeraai om nie na die stadion te kom nie.

* Die gebruik van alkohol word nie toegelaat nie.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.