’n Bedrag van oor die R30 000 is sover ingesamel om klein Elsuné (NeyNey) Fyver (4), ’n kankerlyertjie wat behandeling ondergaan, se gesin by te staan. Meer as 300 drawwers en stappers het Vrydag deelgeneem aan die NeyNey-kankerpretloop, gereël deur Dewald Fourie en sy span van The Pace Foundation, asook borge, by Boomrits in Langenhovenpark. Hoewel NeyNey nou chemoterapie ontvang, kon sy die pretdag saam met haar ouers en haar sussie, Deanette (9), bywoon. Fourie het gesê die geld sal aangewend word om die gesin te ondersteun. Hulle het wel ’n siekefonds, maar daar is heelwat uiteenlopende mediese uitgawes waarvoor hulle verantwoordelik is. Hier by NeyNey (heel links), is mamma Minette en pappa Daniel op die pienk kankertrekker waarmee hulle agter die deelnemers aan die pretstap aangery het. Foto: Lientjie Mentz