Gawie en Michelle Botha in die duine by Al Ain in Abu DhabiFoto: Verskaf


Daar wag ’n opwindende tyd op twee voormalige Bloemfonteinse onderwysers wanneer hulle begin Augustus na die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) terugkeer.

Nie net keer Michelle en Gawie Botha terug na ’n nuwe skool en ’n nuwe stad nie, hulle gaan ook nou heelwat meer geleentheid kry om hul passie vir krieket uit te leef.

Die egpaar is die afgelope weke in Suid-Afrika waar hulle vir vriende en familie kuier nadat hulle verlede jaar na Abu Dhabi vertrek het.

Hulle het by die Amerikaanse skool in Al Ain in dié emiraat skoolgehou.

“Dit is ons avontuurlus wat ons na die Midde-Ooste geneem het,” sê Michelle, wat ’n onderwyser aan die Laerskool Kruitberg was.

Van 2012 tot 2021 was Gawie ’n onder­wyser aan die Laerskool Koot Niemann.

Wanneer hulle terugkeer, begin hulle op 15 Augustus as onderwysers werk by die splinternuwe Italiaanse Internasionale Skool in Abu Dhabi (die stad).

Gawie is as ’n eersteklas krieketskeidsregter gekwalifiseer en het voor sy vertrek na die Midde-Ooste as skeidsregter in nasionale wedstryde hier opgetree.

Hy het ook vanjaar van Mei tot Junie as skeidsregter in die T20-reeks in die VAE opgetree.

Hy gaan ook binnekort saam met internasionaal bekende Australiese krieketskeids­regter Simon Taufel skeidsregterskursusse wat deur die Internasionale Krieketraad geakkrediteer is in Abu Dhabi aanbied.

Ook vir Michelle wat vroeër vir die Vrystaat, asook die Suid-Afrikaanse A-span, vrouekrieket gespeel het, gaan daar meer geleentheid wees vir afrigting en vir deel­name as speler.

Die twee sê hoewel daar baie is waaraan hulle gewoond moes raak, dit eintlik ’n maklike aanpassing was.

“Ons was reg vir die avontuur en om nuwe dinge te ervaar,” sê Michelle.

Hulle sê die veiligheid in dié land, is vir hulle besonder lekker.

“Daar is ook goed waaraan ons gewoond moes raak.”

Gawie sê dat ’n afleweraar eendag kruideniersware kom aflewer het terwyl hulle nie by die huis was nie. Toe hy agterkom daar is niemand tuis nie, het hy by die woonstel ingestap en die kos in die yskas gebêre.

“Tegnologie maak alles ook baie maklik. Daar is ook ander voordele om in só ’n land te bly soos dat die hoofpaaie oral dubbelweë is en saans helder verlig is,” sê hy.

As daar nou dinge is wat hulle baie mis van Suid-Afrika, is dit die vriendelikheid van die mense en natuurlik braaivleis, gaargemaak oor kole of hout eerder as gas.

Vir nou geniet hulle egter die verskillende kulture waarmee hulle te doen kry en al die avonture wat hulle beleef.

You need to be Logged In to leave a comment.