Daar wag ’n opwindende tyd vir twee voormalige Bloemfonteinse onderwysers wanneer hulle begin Augustus terugkeer na die Verenigde Arabiese Emirate (VAE).

Nie net keer Michelle en Gawie Botha terug na ’n nuwe skool en ’n nuwe stad nie, hulle gaan ook nou heelwat meer geleentheid kry om hul passie vir krieket uit te leef.

Die egpaar is die afgelope weke in Suid-Afrika waar hulle vir vriende en familie kuier nadat hulle verlede jaar na Abu Dhabi vertrek het. Hulle het skool gehou by die Amerikaanse skool in Al Ain in dié emiraat.

“Dit is ons avontuurlus wat ons na die Midde-Ooste geneem het,” vertel Michelle wat ’n onderwyser by die Laerskool Kruitberg was. Van 2012 tot 2021 was Gawie ’n onderwyser by die Laerskool Koot Niemann.
Wanneer hulle terugkeer, begin hulle op 15 Augustus werk as onderwysers by die splinternuwe Italiaanse Internasionale Skool in Abu Dhabi (die stad).

Gawie is gekwalifiseer as ’n eersteklas krieketskeidsregter en het voor sy vertrek na die Midde-Ooste as skeidsregter in nasionale wedstryde hier opgetree.

Hy het ook vanjaar van Mei tot Junie opgetree as skeidsregter in die T20-reeks in die VAE.

Hy gaan ook binnekort saam met internasionaal bekende Australiese krieketskeidsregter, Simon Taufel skeidsregterskursusse wat deur die Internasionale Krieketraad geakkrediteer is, in Abu Dhabi aanbied.

Ook vir Michelle wat vroeër vir die Vrystaat asook die Suid-Afrikaanse A-span vrouekrieket gespeel het, gaan daar nou meer geleentheid wees vir afrigting en vir deelname as speler.

Die twee vertel hoewel daar baie is waaraan hulle gewoond moes raak, dit eintlik ’n baie maklike aanpassing was. “Ons was reg vir die avontuur en om nuwe dinge te ervaar,” vertel Michelle.

Hulle sê die veiligheid in dié land, is vir hulle besonder lekker.

“Daar is ook goed waaraan ons gewoond moes raak.” Gawie vertel dat ’n afleweraar eendag kruideniersware kom aflewer het terwyl hulle nie by die huis was nie. Toe hy agterkom daar is niemand tuis nie, het hy by die woonstel ingestap en die kos in die yskas gebêre.

“Tegnologie maak alles daar ook sommer baie maklik. Daar is ook ander voordele om in só ’n land te bly soos dat die hoofpaaie oral dubbelweë is en saans helderverlig is,” vertel hy.

As daar nou dinge is wat hulle baie mis van Suid-Afrika, is dit die vriendelikheid van die mense en natuurlik braaivleis, gaargemaak oor kole of hout eerder as gas.

Vir nou geniet hulle egter die verskillende kulture waarmee hulle te doen kry en al die avonture wat hulle beleef.

You need to be Logged In to leave a comment.