Fichardtpark

Die Hoërskool Fichardtpark se nuwe astro-hokkiebaan.

Die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein se matriekklas van 2021 het uitstekend gevaar. Die skool spog weer met ’n 100%-slaag­syfer. Boonop het 99% van die matrikulante gekwalifiseer om hul studie tersiêr voort te sit.

Alida Grobbelaar en Elané Bekker het ’n plek onder die 50 topleerlinge in die Vrystaat behaal.

Alida en Marnie Dreyer het albei agt onderskeidings behaal, terwyl Elané sewe onderskeidings het. Walter Lindeman het ses.

Die skool is besonder trots op die 16 onderskeidings in geskiedenis en 22 in toerisme.

Die personeel aan die skool is op sukses gefokus en streef onderring op ’n hoë peil na. Die onderwysers word as vakspesialiste geag en daar word baie aan die professionele ontwikkeling van personeellede bestee.

Leerlinge werk in ’n veilige en gebalanseerde omgewing en word die vryheid gegun om akademies hul bes te doen. Die personeel moedig kritiese denke aan om te verseker dat leerlinge hul studie aan tersiêre instansies, en later die beroepswêreld, kan pak.

Die sukses van elke leerling is ’n bewys van die tyd en moeite wat personeel aan akademiese ontwikkeling toewy. Uiteindelik is dit die skool se voorreg om in die welstand van die leerlinge en die gemeenskap te belê.

Ekstra klasse word aangebied, en ’n negende periode in die rooster is spesiaal daarvoor ingeruim.

Personeel is in gereelde kontak met ouers sodat hulle oor hul kinders se ontwikkeling ingelig bly.

Hoewel die Covid-19-pandemie ’n langdurige uitwerking op die onderrigsektor het, is leerlinge en onderwysers aan dié skool bevoorreg dat hulle op akademiese terrein kon bybly en dat leerlinge steeds presteer het. Die skool se streng protokol wat Covid-19 betref, hou leerlinge veilig en bied hulle die geleentheid om op koers te bly ondanks akademiese tyd wat verlore gegaan het.

Benewens die fokus op akademie, word baie gedoen om aan leerlinge ook geleenthede op sport- en kultuurgebied te bied.

Almal verbonde aan die skool is besonder opgewonde oor die voltooiing van die nuwe sintetiese hokkieveld (“astro”). Dit word op 19 Februarie amptelik geopen met ’n toernooi waaraan verskeie skole gaan deelneem. Oudskoliere gaan ook die dag bywoon en hul talent op die veld wys.

Dit gaan beslis die jaar op ’n hoogtepunt begin, waarby dank betuig gaan word aan elke ouer, leerling en borg wat dié skool se droom help verwesenlik het om só ’n veld te hê.

You need to be Logged In to leave a comment.