Ongeneeslike toestand kry haar nie onder

Die uiterlike is vandag nie meer vir haar belangrik nie. Dit is tydelik, en aan die einde van ons lewe bly daar net een hemel vir ons almal.


Die uiterlike is vandag nie meer vir haar belangrik nie. Dit is tydelik, en aan die einde van ons lewe bly daar net een hemel vir ons almal.

Só vertel die dinamiese Chantell Hewitt (38) van Bloemfontiein, wat ondanks ’n ongeneeslike siekte haar nie laat stuit nie.

Chantell Hewitt van Bloemfontein leef voluit, ondanks haar gesondheidsprobleme. Sy is as baba met olifantmansiekte gediagnoseer. Foto: Verskaf

Sy was maar slegs drie maande oud toe die seldsame siektetoestand neurofibromatose (soms olifantmansiekte genoem), by haar gediagnoseer is. Die siekte veroorsaak dat gewasse aan veral haar kop, aanhou vorm.

Hewitt vertel baie mense dink daar is fout met haar oog, maar haar gesondheidsprobleme is veel groter.

Hoewel dokters met haar geboorte gesê het daar is nie fout met haar nie, het haar ma tog gedink haar een ogie lyk nie reg nie.

“Namate ek groter geword het, het my gesig al hoe meer misvorm geraak.”

Baie operasies en behandeling het in haar lewe gevolg. Sy het haar eerste breinoperasie ondergaan nog voordat sy twee jaar oud was.

“Die operasies was elke keer om massas van die gewas rondom my oog te verwyder.”

Chantell Hewitt as baba. Foto: Verskaf

Hewitt het in 2019 ’n baie groot operasie in Durban ondergaan om massiewe massas rondom haar regteroog te verwyder.

“My gesig aan die regterkant was in daardie stadium redelik misvorm. Met hierdie operasie is daar vir my ’n oogkas gebou.”

Verlede jaar het komplikasies ingetree met een van die skroewe wat ingeplant is. Dit is nou besig om deur haar vel te druk.

Sy is in Maart vanjaar weer geopereer om ’n ballon onder die vel op haar voorkop in te plant, met die doel om haar vel te rek vir ’n opvolg-operasie later vanjaar.

Chantell Hewitt van Bloemfontein het besluit om voluit te lewe, ondanks haar gesondheidsprobleme. Foto: Verskaf

Sy het ondanks die magdom operasies, terugslae en uitdagings nooit moed verloor nie. Hewitt leef vandag haar groot passie uit – om te dans. Sy het haar eie dansateljee en is ’n dansinstrukteur.

Hewitt vertel sy dans al vandat sy drie jaar oud was. Dit het nie sonder sy teëspoed gekom nie.

“Ná ’n rivier van trane, opstaan, weer probeer en baie gebed is ek vandag ’n gekwalifiseerde afrigter in moderne dans en hip-hop.”

Om te dans maak haar baie gelukkig. En baie trots.

“Ek het verlede jaar dansers gehad wat gekies is om Suid-Afrika op internasionale vlak te verteenwoordig. Hulle het toe weens omstandighede nie gaan deelneem nie, maar ek is so trots.”

Sy wil kinders graag deur middel van dans uitdaag en hul geloof help groei.

“Dit maak nie saak hoe groot, klein of onmoontlik jou droom vir jou lyk nie, gee dit oor aan Jesus.

“Sê in nederigheid vir Hom wat jy graag wil hê. Vertrou Hom dan volkome met jou lewe en jou droom.”

Hoewel mense, veral volwassenes sê sy, haar aanstaar, of dinge oor haar sê, het sy haarself geleer om dit nie ernstig op te neem nie.

“Dit gaan daaroor hoeveel keer ek weer opstaan en voortgaan. Dit is hoe lewens wenners gebore word. Ongelukkig kan die lewe ons nie altyd gelukkig maak nie, ons geluk is ons eie besluit.”

En dit doen sy. Al dansend.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.