Onraad vermoed met aanstellings

Kantoorpersoneel van die Mangaung-metro se waarnemende uitvoerende burgemeester gee net werk aan ANC-lede in die uitgebreide openbare-werke-programme, en hy gaan ’n klag daaroor by die openbare beskermer (OB) indien, het Dave McKay, DA-raadslid, Vryd


Kantoorpersoneel van die Mangaung-metro se waarnemende uitvoerende burgemeester gee net werk aan ANC-lede in die uitgebreide openbare-werke-programme, en hy gaan ’n klag daaroor by die openbare beskermer (OB) indien, het Dave McKay, DA-raadslid, Vrydag (28/07) op ’n raads­vergadering gesê.

Gregory Nthatisi, waarnemende uitvoerende burgemeester, het dit egter ontken.

“McKay het sy lys kom indruk nadat die tyd hiervoor al gesluit het. Ons lys aan wie die kantoorpersoneel werk gegee het, sluit lede van ander politieke partye ook in.”

McKay sê hy het sy lys voor die sper­datum van 26 Julie ingedien en hy het die handtekening van ’n lid van die personeel op die vorms.

McKay het op die raadsvergadering gesê regmatige begunstigdes van tydelike werk in dié programme is deur die personeel in Nthatisi se kantoor geïgnoreer en dat mense met ANC-lidmaatskapskaarte eerder vir die werk ontbied is.

Hy sê hy het in sy wyk (wyk 18 in Bloemfontein) die name van 36 mense wat hiervoor aansoek gedoen het volgens die “loting”-metode uit ’n hoed getrek, ongeag die party waaraan hulle behoort.

“Laatmiddag, voordat die burgemeester se kantoor die werk sou oorhandig, het een van die 36 ’n telefoonoproep ontvang dat sy die ander 35 moet bel om die volgende oggend vroeg by die waarnemende burgemeester se kantoor te wees,” sê McKay.

“Dit is ’n werklose vrou sonder bel-geld.

“Die volgende oggend toe sy daar kom, het die ANC klaar sy lede gebel en die werk aan hulle gegee.

“Net een van die 36 mense op die lys is gebel om vir opleiding te kom. Die vrou is Dinsdagmiddag om 15:50 gebel en daar is vir haar gesê om drie maande se bankstate saam met haar te bring, asook ’n bewys van adres en gesertifiseerde identiteits­dokument en dat sy die volgende oggend om 09:00 by die opleiding moes wees.”

McKay sê dit is ’n vrou sonder vervoer aan wie so min tyd gegee is. Geen van die ander op die lys is gekontak nie.

Toe ’n beampte in die burgemeesterskantoor hieroor uitgevra is, het hy glo geantwoord dat niemand hul foon geantwoord het nie.

McKay sê dit is onmoontlik dat 35 mense se foon gelyktydig af was.

“Ek het onmiddellik vyf mense op die lys gebel en almal het dadelik geantwoord.”

Hy sê die amptenaar het blatant gelieg.

“Dit het onder ons aandag gekom dat ’n onwettige, nie-amptelike lys met name deur die ANC ingedien is.

“Hoekom is daar verskillende vorme van kommunikasie?” wou McKay op die raadsvergadering weet.

  • Weens ’n hofsaak wat steeds hangend is oor die raadsvergadering waarop Pappie Mokoena van die Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD) tot die Mangaung-metro se uitvoerende burgemeester en David Masoeu van die DA tot hoofsweep verkies is, moes daar weer gestem word vir ’n waarnemende burgemeester en hoofsweep.

Gregory Nthatisi is herkies tot waarnemende burgemeester en ook Vumile Nikelo as waarnemende hoofsweep.

Die aanstelling geld drie maande lank, of totdat die hofsaak afgehandel is.

Daar was ook op Vrydag se vergadering ’n mosie van wantroue teen die speaker, Maryke Davies (DA) deur die African Transformation Movement (ATM) ingedien.

Die mosie kon nie aangehoor word nie weens die hofsaak wat die ANC gemaak het oor die gebeure op die raadsvergadering van 14 April.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.