’n Nuwe fase het vir Engo se Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum in Bloemfontein aangebreek met die aanstelling van Carin Beukes as die nuwe prinsipaal.
Sy neem oor by Frikkie van Dyk wat vandeesmaand ’n pos by Engo se provinsiale kantoor aanvaar het.
Beukes het 22 jaar se bestuurservaring en het ’n B Soc Sc-graad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal.
Sy het ’n besonderse passie om met kinders te werk.
“Die jeug en hul behoeftes is my passie en ek sal altyd streef na die beste belang van elke kind wat aan alternatiewe sorg toevertrou is,” het Beukes gesê.
Van Dyk is voortaan verantwoordelik vir die opleiding van maatskaplike werkers en kinderversorgers van Engo se jeugsorgsentrums. Hy sal ook Engo se sorgverlatersprogram bestuur, waar spesifiek gefokus word op die behoeftes van kinders wat die sorg van Engo se jeugsorgsentrums oor die Vrystaat heen ná skool moet verlaat. Hy was vir 18 jaar betrokke by Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum in Bloemfontein.