Met lekker vars mango’s wat in die somer algemeen beskikbaar is, is dit lekker om jouself soms ’n bietjie te bederf met ’n eksotiese ontbyt.
Mango’s proe nie net vars en verfrissend nie, dit gee jou ook ’n goeie hupstoot vitamien A en C asook biotien en kalium.
Jy kan die mango’s al die vorige aand afskil en in blokkies sny en in die yskas bêre. Eet dit vir ontbyt saam met muesli, hawermout of maak ’n heerlike vrugteskommel.
Komplimenteer die smaak van mango met jogurt, heuning en neute.
Hier is ’n lekker resept wat jy met mango’s kan maak:
Tropiese granola-ontbyttertjies
Die resep maak ses tertjies en neem so 40 minute om te maak.
Jy benodig:
Vir die tert
1½ koppie hawermout
¼ koppie sonneblomsaad
½ koppie swart sesame-saad
’n knippie kaneel
1 teelepel vanielje-ekstrak
¼ koppie heuning
1 eierwit
Vir die vulsel
1 koppie vanielje-jogurt
½ mango in blokkies gesny
Metode:
* Voorverhit die oond tot 180 °C
* Spuit ronde foeliekoppies (ongeveer 7 x 3cm) met ’n kleefwerende sproei en hou eenkant.
* Meng die hawermout, sade, kaneel, vanielje, heuning en eierwit in ’n mengbak tot goed gemeng.
* Verdeel die mengsel tussen die koppies en druk dit onder en teen die kante om bakkies te vorm. Bak dit tot goudbruin vir ongeveer 15 minute.
* Gebruik ’n teelepel om die bodem en kante plat te druk en bak vir nog 10 minute. Los dit om heeltemal af te koel.
* Vul die afgekoelde tertbakkies met die jogurt en plaas die mango-stukkies bo-op. Die tertjies kan vir ’n week lank in ’n lugdigte houer in die yskas gebêre word, maar moet binne ’n week geëet word.