Kop proe die vleis van tien verskillende skaaprasse se vleis en proe aan ‘n verskeidenheid bier daarmee saam. Foto: Verskaf


Daar wag ’n ware ontdekkingsreis op liefhebbers van skaapvleis by die Skaap-en-bierfees op De Oude Kraal op 26 Oktober. Marie Lombard en haar span bied feesgangers die geleentheid om te proe aan die vleis van 10 verskillende skaaprasse wat oor die land voorkom.

Skaapvleis het ’n ryk geskiedenis in Suid-Afrika, waar verskillende rasse geteel is om by spesifieke omgewingstoestande en weivelde aan te pas. Daar is ’n wye verskeidenheid smake wat regoor die land voorkom en verskil met elke individuele skaapras.

Kop proe die vleis van tien verskillende skaaprasse se vleis en proe aan ‘n verskeidenheid bier daarmee saam. Foto: Verskaf

Marie sê daar is verskeie voordele om die skaapvleis van verskillende rasse te proe en te vergelyk, sodat jy jou palet kan uitbrei en besef dat daar ’n verskil is. So kan jy self besluit watter skaapras se vleis jou gunsteling is.

“Elke skaapras lewer skaapvleis met ’n unieke smaak, geur en tekstuur. Sommige is sagter en meer subtiel, terwyl ander ’n ryker, dieper smaak bied. Deur al die verskillende rasse te proe, kry elkeen die geleentheid om ’n beter waardering te ontwikkel vir die subtiele verskille wat elkeen uniek maak,” verduidelik sy.

Van 17:00 tot 19:00 kan feesgangers tussen 15 stalletjies loop en tjops, ribbetjies en bladvleis van rasse soos Ronderib-Afrikaner, Merino, Meatmaster, Suid-Afrikaanse Vleismerino, Dorper, Dohne-Merino, Suffolk, Afrino, Dormer en Suid-Afrikaanse Landskaap proe. Daar sal ook stalletjies wees waar meer avontuurlike vleisliefhebbers kan proe aan skaapkoppe, -stertjies, -nek en selfs skaappotjies en skaapafval.

Van 19:00 af gaan Marie en haar span ’n proe-geleentheid aanbied waar boudvleis en bier by mekaar gepas gaan word, en feesgangers kan meer leer oor elke skaapras se vleis.

Marie verduidelik dat hulle die skaapboud van die verskillende rasse op dieselfde manier gaan gaarmaak sodat die onderskeid tussen rasse geproe kan word. “Kos vorm ’n groot deel van ons sosiale lewe en ontspanning – deur die skaapboud-proesessie te ervaar, sal jy en jou vriende saam in die ervaring deelneem en sien hoe uiteenlopend die smake is.”

“Skaapvleis is ’n baie veelsydige vleis en kan op verskeie maniere voorberei word. Die meeste families het ’n gunsteling-resep en ’n storie wat daarmee verband hou.” Sy verduidelik dat skaapvleis nie net smaakvol is nie, maar ook ’n goeie bron van proteïen, yster, sink, en vitamiene B12 en B6.

“As jy eksperimenteer met die verskillende snitte, kan jy jou gunsteling-disse ontwikkel en vervolmaak, en nuwe stories en resepte aan die volgende geslag oorlewer. Indien verbruikers plaaslike slaghuise ondersteun, kan hulle skaapvleis kry wat van plase kom waar etiese boerdery toegepas word en die plaaslike ekonomie ondersteun.”

“Bring jou vriende en kom proe die heerlikste skaapvleisgeregte,” nooi sy.

Richann Brüssow is die kunstenaar, en ’n verskeidenheid biere, wat plaaslik vervaardigde mikro-brouers insluit, kan geproe word. Kaartjies vir die fees is aanlyn http://www.deoudekraal.com beskikbaar en kos R450.

You need to be Logged In to leave a comment.