Suid-Afrika is skatryk, daar is oorvloed van plekke om te verken, mense om te ontmoet en ervarings om bymekaar te maak.

Die wye ooptes van die Karoo en die omliggende platteland is ’n groot fonds, maar dit is soms bietjie moeilik om hierdie skatte te navigeer.

Ons Karoo en Kontrei is ’n nie-winsgewende beweging wat op ’n missie is om die platteland se skatte saam te laat werk sodat ondernemings mekaar kan komplimenteer en iets groot kan bied.

Adri Smit, stigter van Ons Karoo en Kontrei sê die platteland se skatte is nie net die ooptes en besienswaardighede nie, maar ook die entrepreneurs in die platteland.

“Een van ons inisiatiewe is Bossie Goud Skattejag waar ons vir die mense ‘n opwindende manier bied om die Karoo en omliggende platteland te verken,” sê Smit.

“Dit bied nie net pret nie, maar deelnemers kan ook help met verskillende inisiatiewe soos die oprig van veiligheidskameras en die sterilisering van troeteldiere in die 15 skattejag-dorpe.”

Bossie Goud Skattejag se dorpe strek van Springbok in die noordweste tot Hofmeyr in die ooste, Vanwyksdorp in die suide, en verskeie dorpe tussenin. Omdat die gebied groot is, sal deelnemers nie noodwendig al die dorpe kan besoek nie, maar dit is geen probleem nie.

“Baie van die aktiwiteite kan gerieflik vanaf jou rusbank op die webwerf voltooi word. Wanneer jy die dorpe besoek, kan jy selfies neem by sekere punte as bewys dat jy daar was vir heelwat meer punte. Jy verdien ook punte as jy ondernemings, wat betrokke is by die skatttejag, ondersteun. Jy kan selfs punte verdien deur net oor te slaap.”

Die skattejag duur tot Mei 2025, en daar is geen vaste volgorde nie – jy kan jou eie roete en tyd beplan om die dorpies op jou gemak te besoek.

“Natuurlik kort ‘n goeie skattejag ‘n lekker storie, en wat is nou beter as die Kruger-miljoene wat weggeraak het,” sê Adri.

“Teen hierdie tyd weet ons al dat die Kruger-miljoene nie gevind kan word nie, so ons gaan goud maak. Gottlieb Brand is ons man wat deel is van die span wat goud wil maak. Hulle gaan Cleopatra se formule om goud te produseer, gebruik.

“Gottlieb is gestuur om ’n sekere Karoobossies te toets wat deel uitmaak van Cleopatra se formule, maar hy het sy bevindinge versteek in sy joernaalstories.

“Deelnemers kan ‘n allemintige 200 punte verdien deur ons te help om Gottlieb se versteekte boodskap te ontsyfer,” verduidelik sy.

Pryse sluit heerlike geskenkbokse in, propvol plaaslike produkte wat met groot sorg en liefde in die streek gemaak is.

Jy kan inskryf as vriend by www.bossiegoud.co.za. Deelname kos R150, waarvan 30% na Ons Karoo en Kontrei se kameraadskapfonds gaan om bestaansboere in droogtegebiede te ondersteun.

“Jou avontuur, al is dit net van die rusbank af, maak ’n verskil in ons platteland,” sê Adri.

You need to be Logged In to leave a comment.