Ontdek ‘n wêreld van hemelse geure

Of jy ’n wonderlike oliemengsel inasem, dit aan jou vel smeer of saam met jou water of kos inkry, dit is die perfekte manier om gesond te bly en goed te voel.


Internasionaal is daar ’n al hoe groter beweging terug na natuurlike produkte om gesondheid te bevorder.

Een van die produkte wat die afgelope paar jaar gewilder geword het, is vlugtige olies (“essential oils”).

Talitha Bastone, wat saam met haar man, Charles, dõTerra- vlugtige olies verkoop, verduidelik dit is alles olies wat van natuurlike plantprodukte gemaak word.

“Die suiwerheid van ’n vlugtige olie maak ’n groot verskil in sy effektiwiteit,” sê Talitha.

“Maak seker dat die olies wat jy gebruik ’n suiwerheidstoets ondergaan het.”

Sy sê baie van die olies wat hulle verkoop, kan uitwendig sowel as inwendig gebruik word.

“ ’n Mens besef nie hoe groot die invloed van jou reuksintuig op jou brein en liggaam is nie.

“Dink maar aan iets soos die reuk van petrol en kommersiële kombuisprodukte. Vir daardie reuke moet ’n mens baie versigtig wees.

“Die invloed van dit wat jy ruik, duur baie langer as wat ’n mens besef. So is dit ook met vlugtige olies, waarvan die goeie uitwerking voortduur selfs al ruik jy dit nie meer nie.”

Daarom, sê sy, is dit die moeite werd om olies van goeie gehalte te gebruik.

“Toe ek Charles ontmoet het, kon hy nooit goed ruik nie. Hy het nie eens op ons troudag my parfuum geruik nie. Kort nadat ons meer van die olies begin leer het, het hy begin om daagliks peperment-olie met sy duim in ‘n druppel olie te druk en teen sy verhemelte te smeer.”

Sedertdien het daar vir hom ’n nuwe wêreld van reuke en geure oopgegaan.

Talitha vertel sy het artritis in een van haar vingers, en met een van die mengsels wat sy maak, het dié pyn byna heeltemal verdwyn.

“Danksy een van die olies kon ek ook beter fokus, en ek kon medikasie wat ek altyd vir hiperaktiwiteit geneem het – wat aaklige newe-effekte gehad het – heeltemal los.”

Van al die olies wat hulle gereeld in mengsels gebruik, is peperment ’n gewilde keuse.

Dit help veral vir sinusverwante probleme.

Talitha noem laventel die “Swiss army knife” van olies. ’n Mens kan dit uitwendig aan jou vel gebruik om brandwonde of vel-infeksies te behandel, of vir ontspanning, beter rus en vele meer.

Sitrus-olies, afkomstig van die skil van sitrusvrugte, word ook gebruik. So kan suurlemoen-olie jou lugweë oopmaak en asemhaling bevorder. Dit help jou om beter te fokus.

Jy kan dit ook in jou drinkwater gooi. Charles waarsku net dat jy nie vlugtige olie in ’n gewone plastiek-waterbottel moet gooi nie.

“Kry vir jou ’n glasbottel of ’n bottel van vlekvrye staal.” Hy sê daar is ’n verskeidenheid olies wat ’n heerlike geur aan water kan gee en boonop goed is vir jou.

Die vlugtige olies van dõTerra is baie sterk, en ’n mens het net ’n enkele druppel, of ’n paar daarvan, nodig. Vlugtige olies soos dié van sitrus is lugsensitief, en as jy dit aan jou vel gebruik, moet jy 12 uur ná gebruik nie in sonlig kom nie.

So of jy ’n wonderlike oliemengsel inasem, dit aan jou vel smeer of saam met jou water of kos inkry, dit is die perfekte manier om gesond te bly en goed te voel.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.