Ek het die naweek ’n klein, ontstellende skat ontdek.

Die einste dag voordat ’n magdom Voortrekkers vir hul inlywing by die Vrouemonument saamgetrek het, was ek daar – salig onbewus van al dié opwinding wat sou volg. Saterdag, op die helderste van vroegwintersdae, was die terrein so te sê verlate.

Die gebou van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke het van buite stug en stom gelyk, al kwetter dit daarbinne van soveel stemme uit die verlede wat almal gelyk hul stories vertel. Die onbeweeglike stoomtrein was statig op sy spoor; die blokhuis onverstoorbaar waar hy hoort; Rundle-huis al die pad uit die Oos-Vrystaat op die plek wat spesiaal vir hom gereed gemaak is. In die huisie met die uitstallings van die slag by Paardeberg het vreemde verrassings in die foto’s aan die muur, soos ’n lugballon en ’n oeroue skilpad, geduldig gewag om die oë te laat rek, en die lewensgrootte pophuis het met toe deur en donker vensters agter sy groen heining onder sy nog groener boom gestaan, nes enige huis op enige Vrystaatse klein dorpie destyds op die middagslapie-uur.

Op die gras voor die restaurant en Bloemfontein Hospice se winkel het die standbeeld van die agterryer vredig in die son gebak, en in die kinder-gedenklabirint het herfsblare onder my voete gekraak waar ek met die plaveisel langs stap terwyl ek die aangrypende woorde en sinne rondom my ontdek.

Hier in die labirint besef jy, nog sekerder as by die Tuin van Herinnering met sy rye op rye name: Daar was oorlog. Daar is gely, gevlug, gesterf en gerou.

Maar onder die bome langs die standbeeld waar die boerekryger en sy vurige perd tot in der ewigheid van sy vrou en kind sal bly afskeid neem, het ’n spannetjie kinders sorgloos saam met hul ma’s piekniek gehou.

Met die aanstap na die monument was dit opwindend om te sien dat daar opknappingswerk aan die ingangsportaal gedoen word. Hier kom blykbaar iets om mee te spog, en besoekers sal een van die dae met ’n heel nuwe aanslag die geskiedenis binnegenooi word.

Dis juis ’n atmosfeer van afwagting waarin alles op die terrein wat ek tot op daardie stadium gesien het, rus.

Nou weet ek nie mooi of dit maar net menslik is om aan iets te wil vat wat jou emosioneel roer nie. As skoolmeisie het ek elke jaar geraak aan die voet van die boervrou wat haar kryger groet, ook maar net omdat die boer se uitgestrekte hand te hoog is om by te kom. By die beeld van die krygsgevangenes het ek Saterdag maar my hand oor die golwende sandsteen laat gly, koud soos die see waaroor die mans weggevoer is. By die bittereinder op die bult het ek van die geweerlope vasgegryp terwyl ek saam met hom oor die stad uitkyk, nadenkend aan geweervuur en missiele en stede wat brand in ’n land ver van Suid-Afrika en Bloemfontein.

Dis by die monument dat my hande maar weer langs my sye moes hang, met die vroue en kind wat buite bereik was. Voor die reliëfs kan ’n mens darem gaan staan.

Op dieselfde oomblik dat ek my hand uitstrek, ontdek ek die wang van die sterwende kind in die konsentrasiekamptent in die reliëf links, glad en blinkgevat van die deernis van baie hande.

You need to be Logged In to leave a comment.