Kamogelo Baukudi (19) wat vanoggend vroeg veilig deur die polisie in Wepener gevind is.

BLOEMFONTEIN. – In ‘n groot deurbraak is die gr. 11-leerling van die Martie du Plessis-skool, Kamogelo Baukudi (19), wat ‘n maand gelede ná skool ontvoer is, veilig gevind.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het in ‘n nuusverklaring bekend gemaak dat die polisie vanoggend in die vroeë oggendure vir Kamogele in Wepener gevind het ná ‘n uitgebreide reddingsoperasie.

Kamogele is op 5 Junie ontvoer waar hy saam met ‘n drywer van die skool af huis toe geneem is en hulle in Vereenigingrylaan gery het.

Makhele sê die seun se ontvoering het gelei tot die stigting van ‘n toegewyde multi-dissiplinêre taakspan van die polisie onder leiding van die Mangaung-metro se distrikskommissaris maj. Arthur Adams.

Makhele sê ná weke se intensiewe ondersoekwerk is Kamogele vanoggend gevind en vyf mans tussen die ouderdomme van 20 en 29 is in hegtenis geneem.

Drie van die verdagtes is in hegtenis geneem in ‘n huis in die Kanana-township by Wepener. Die ander twee was met die slagoffer op pad tussen die Kwetla-township en Wepener toe die polisie op hulle toegeslaan het.

Ses mense in totaal is nou in verband met die ontvoering in hegtenis geneem. Die eerste is ‘n 42-jarige polisiesersant wat vroeër in hegtenis geneem is en reeds in die hof verskyn het. Klagte van ontvoering en afpersing is teen hom aanhangig gemaak.

Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale kommissaris van die Vrystaatse polisiediens, het die span van die polisie gelukgewens met die operasie.

“Dit is ‘n groot verligting vir die familie en die gemeenskap dat Kamogelo weer veilig is. Ek eer die lede wat onverpoos gewerk het en elke leidraad opgevolg het onder groot belangstelling van die publiek. Ons sal toesien dat geregtigheid geskied,” het Motswenyane in ‘n verklaring gesê.

Die verdagtes sal Maandag 30 Junie saam met die polisie-sersant in die hof verskyn op klagte van ontvoering en afpersing.

You need to be Logged In to leave a comment.