Ebeth Wilson (links) en dr. Karen Conradie in die praktyk by die Pasteur-ooghospitaal. Agter hulle is die kunswerk van ’n oog deur Xander Steyn. Foto: Lientjie Mentz


Kunstenaars het die geleentheid om aan ’n plaaslike kunskompetisie deel te neem wat die fokus op die oog plaas.

Die Pasteur-ooghospitaal, in samewerking met die ATKV-tak Gemeenskapsteater en die Co-op-galery in die stad, bied ’n kunskompetisie aan waarin die eerste prys ’n tekenklas by die kunstenaar David Griessel is.

Dr. Karen Conradie, ’n oftalmoloog by die Pasteur-ooghospitaal, sê Bloemfonteinse kunstenaars het baie talent, maar daar is nie genoeg platforms om dié kuns te vertoon nie.

“Ons doen hierdie projek as bewusmaking van die oog en oogtoestande wat bekamp kan word.”

Sy sê haar inspirasie kom van ’n besonderse skildery wat Xander Steyn vir haar praktyk gemaak het.

“Die kunswerk van ’n oog het my geïnspireer om hierdie platform te begin om nog kunstenaars aan te moedig om hierdie onderwerp skeppend te benader.”

Vier afdelings is geskep:

  • afdeling 1, vir laerskoolleerlinge van 9 tot 12 jaar oud;
  • afdeling 2, vir hoërskoolleerlinge van 13 tot 18 jaar;
  • afdeling 3, vir volwassenes ouer as 18 jaar wat nog nie ’n solo-uitstalling gehad het nie; en
  • afdeling 4, vir mense met gestremdhede.

Die inskryfgeld is R250, wat ’n monteerbord en ’n venstermontering insluit.

Die inskryfvorms, asook die monteerborde waarop kunswerke gedoen moet word, is by Esré Frames and Art in Graaff-Reinetstraat 36 in die arkade langs die Co-op-galery in die Dan Pienaar Mall beskikbaar.

Die sluitingsdatum vir al die afdelings is Saterdag 22 Julie, om 12:00.

Al die kunswerke moet by Esré Frames and Art ingehandig word.

Die tweede prys is ’n kunsklas by Willemien Kruger, en die derde prys ’n geskenkbewys van Signo.

Die kunswerke in afdeling 1 tot 3 sal by die Co-op-galery uitgestal word, en die kunswerke van afdeling 4 sal in Augustus op die ATKV se eisteddfod vir mense met gestremdhede uitgestal word.

Die kunswerke van die finaliste in elke afdeling sal ná die uitstalling in die Co-op-galery en die Pasteur-ooghospitaal uitgestal word.

Die wenners sal ook op ’n spesiale geleentheid aangekondig word.

Rig navrae deur 082-831-1497 te skakel, of stuur navrae na bloemfonteingemeenskapsteater @gmail.com, of ’n WhatsApp-boodskap na 083-560-9178.

You need to be Logged In to leave a comment.