BLOEMFONTEIN. Die afgelope 27 jaar lank al smul Bloemfonteiners alte lekker aan oom Boet se vrugteblokkies.
Oom Boet du Plessis (96) bak nog gereeld dié lekkerny wat sy vrou, wyle Isie, jare gelede eers net vir hulle tuis gebak het; en later aan Crazy Daisy (toe nog in Langenhovenpark) en ander ondernemings verskaf het.
Van die begin af het die vrugteblokkies by Crazy Daisy soos soetkoek verkoop. Vandag staan ‘n glashouer vol van oom Boet se blokkies langs die kasregister by dié winkel in die Fleurdal Mall.
Oom Boet en tannie Isie, wat vroeër jare buite Bloemfontein naby Sannaspos geboer het, het in 1992 stad toe getrek. Hulle het eers in Langenhovenpark gewoon en later na Westerbloem verhuis.
Nadat tannie Isie begin siek word het en in 2016 oorlede is, het oom Boet by haar oorgeneem. Die afgelope nege jaar staan oom Boet in die kombuis en maak die blokkies presies volgens hul resep.
“Ander mense het my al gevra vir die resep, maar dit kom nooit uit soos my blokkies nie,” sê hy met ‘n groot glimlag.
Sy dogter wat by hom woon, Liana Steyn, moet toesien dat daar altyd bestanddele in die huis is.
“As die mense bel, dan begin ek weer bak,” sê hy. “Die bestanddele is belangrik. Die rosyntjies moet skoon wees,” sê hy ernstig.
En in oom Boet se kombuis werk die bakproses soos ‘n fabriek – alles staan eers reg voordat hy begin.

Hy meen dié bakkery hou hom gesond. Hy drink net vitamine en ‘n pilletjie vir die bloeddruk, maar vir 96 jaar is hy nog goed aan die gang, reken hy. Boonop ry hy nog met sy motor in Westerbloem om by vriende te kuier, en hy stap ook nog graag.
“Ek het vroeër koor gesing en hulle het my nou die dag nog weer gevra om bekfluitjie te speel,” vertel hy.
Die liefde vir kos loop in die familie, met ‘n kleinseun van oom Boet wat in Amerika ‘n sjef is. Dié se dogter (8) is baie opgewonde wanneer daar ‘n pakkie van Suid-Afrika af kom met “Oupa se blokkies” in.
Oom Boet sê by die huis in Westerbloem kan besoekers proe aan die afsnysels, wat maar altyd saam met ‘n koppie tee bedien word.
Van hier af kring die legende en groot lekkerte van oom Boet se vrugteblokkies uit, oor Bloemfontein heen en selfs tot ver oor die see.



You must be logged in to post a comment.