’n Bekende en geliefde inwoner van Heidedal, Clive Soloman (78) is Saterdag (29/11) oorlede aan komplikasies met sy hart in ’n hospitaal in Bloemfontein.
Oom Clive, soos hy alom bekend gestaan het, het vroeër jare gereeld brokkies nuus uit die gemeenskap gebring om in Bloemnuus te publiseer. Hy het ’n omgeehart vir die mense van sy gemeenskap gehad.
Hy is in 2012 aangewys as Heidedaller van die Jaar en het in die jare 1980 gereeld ’n rubriek genaamd Sportkoukus onder die skuilnaam Sol in Volksblad geskryf.
Hy was bekend daarvoor dat hy groot verskil gemaak het in die gemeenskap van Heidedal – hetsy op sportgebied, gemeenskapsontwikkeling, op kerlike gebied of politiek.
Die Clive Solomon-sportsentrum is ook na hom vernoem.
In ’n berig wat Bloemnuus in 2019 gepubliseer het, het oom Clive met passie vertel hoe sy familie betrokke was by die stigting van die Katolieke gemeente Christus die Koning in 1969. Die families Solomon, Stone, Smith en Dauds het begin met die poging om geld uit die gemeenskap in te samel om die kerk op te rig.
Van die bekendes wat die kerk deur die jare besoek het, is Nelson Mandela en sy gevolg wat kort voor sy inhuldiging as president in 1994 toevallig in Heidedal stilgehou het. Oom Clive vertel Madiba het nader gestap toe hy die kerkklok hoor lui en hy het hom by die hek verwelkom.
Patrick Lekota het ook gereeld eredienste in dié Katolieke kerk bygewoon.
Oom Clive het lank gedien as bestuurslid van die Heidedal-bestuurskomitee.
Op oom Clive en sy vrou, Mavis, se 50ste huweliksherdenking in 2015, het hulle ’n spesiale sertifikaat van gelukwensing van die Pous van die Katolieke Kerk ontvang.