Oom Stoffel Cilliers (84) wat vir jare elke maand ’n reënvalberig vir Bloemnuus gelewer het, is Vrydag (28/07) in sy meenthuis in Heuwelsig oorlede.
Sy begrafnis is gereël vir Maandag (07/08) om 11:00 in die NG kerk Heuwelkruin.
Cilliers wat ook vroeër ’n redaksielid van Volksblad was en ná sy aftrede ook weer in die dag-subkantoor gewerk het, was ’n gewaardeerde lid van die stad se taalgemeenskap.
Hy was vir 21 jaar ’n onderwyser en ook adjunk-superintendent van onderwys in die Vrystaat.
Hy was vir jare ’n ondersteuner van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) en die Vriende van Naln.
Hy was vir 35 jaar voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging.
Sy uitgebreide manuskripersameling asook die manuskripte van sy eerste vrou, wyle Hélen wat in 1996 oorlede is, word by Naln bewaar.
Annelien Diedericks, museum-geesteswetenskaplike by Naln sê dit sluit dit jeugboeke Die boetie van die bos asook Monsterspruit wat op die werklikheid gegrond is, in.
Paul Colditz, voorsitter van Vriende van Naln, huldig Cilliers vir dit wat hy in die Afrikaner-gemeenskap beteken het. “Sy voetspore lê diep. Ons eer sy nagedagtenis.”
Wyno Simes, Naln se kurator, sê personeel by Naln sal sy gewaardeerde teenwoordigheid by Naln baie mis.
Diedericks sê hulle is dankbaar vir Cilliers se nalatenskap.
“Sy sagtheid, deernis en opregtheid is navolgingswaardig. Sy versoek was altyd: noem my oom Stoffel.”
Karen Herbert, groepredakteur Sentraal24 waarvan Bloemnuus deel is, sê Oom Stoffel se uitstekende humorsin het almal in die dag-subkantoor gereeld laat skaterlag. “Hy het langs my gesit in sy tweede skof by Volksblad en sy taalkennis was verstommend en ek het ongelooflik baie by hom geleer, sê sy.
Sy vrou, Heila, sê die maandelikse reënberiggie was vir haar man ’n lekker stokperdjie.
“Ons het albei onlangs Covid gekry, maar ek het dit baie lig gehad en dit het hom baie swaar getref. Toe hy baie swak begin word, het ek nog laas die reën gaan meet en vir hom gehelp om die beriggie te skryf,” vertel sy.
Sy sê die begrafnisreëlings moet nog getref word en dat dit eers later die week sal wees omdat oom Stoffel se enigste oorlewende seun, George, en sy gesin wat in Australië woon, ook graag hier sal wil wees vir die begrafnis.
Begrafnisreëlings sal nog deurgegee word sodra dit gefinaliseer is.