Rakke en rakke vol serpe, mussies, truie, komberse en ander gebreide en gehekelde artikels vir volwassenes en kinders, staan gereed om behoeftige mense hierdie winter warm te hou.
Bloemskou en BloemNuus het vanjaar weer die publiek gevra om gebreide artikels te skenk en alles gaan nou aan inwoners van verskeie instellings oor die stad heen versprei word.
Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, sê die Bloemskou/BloemNuus Breiprojek het vanjaar meer as 1 000 mussies en serpe ingesamel wat individue gehekel en gebrei het.
“Wat ’n groot voorreg om jaarliks hierdie platform te bied waarin individue ook op so ’n proaktiewe en praktiese manier kan bydra tot ons gemeenskap,” sê sy oor die projek.
Instansies wie se inwoners of begunstigdes met die skenking gehelp gaan word, sluit in Genade in Aksie, die NG kerk Pellissier-uitreikaksie, pasiënte van die Nasionale Hospitaal se intensiewesorgeenheid en inwoners van die Laventel-gang by Ons Tuiste in Westerbloem asook Vrystaat-Versorging in Aksie in Watkeystraat.