Die Noorderbloem-aftreeoord bied sedert 2016 elke jaar ’n roosfees vir inwoners aan.
Manie Wolvaardt, organiseerder van die kompetisie, sê daar is soveel pragtige rose in die onderskeie tuine by die oord dat dit jaarliks ’n keurgeleentheid onder Noorderbloem se verskeidenheid aktiwiteite geword het.
Deur die Covid-19-inperkingstyd het dit op ’n meer beskeie wyse plaasgevind, aangesien die publiek nie daarheen genooi kon word nie.
“Vanjaar kan Bloemfonteiners weer na dié skouspel kom kyk. Die onderskeie roosvariëteite word in verskeie afdelings ingedeel, wat elk apart uitgestal word: pienk, rooi en enige kleur edelrose, oop rose, trosrose en miniatuurrose.”
Hoewel dit nie primêr ’n kompetisie is nie, maar ’n geleentheid vir die inwoners om vir almal se genot hul rose uit te stal, word daar pryse in elk van die afdelings toegeken.
Die roosfees vind op Woensdag 26 Oktober plaas.
Besoekers kan die uitstalling van 09:30 tot 17:00 in die oord se saal besigtig.
Benewens die roosuitstalling sal verskeie kosstalletjies ook tot 12:00 oop wees.
Noorderbloem is by Metzstraat 1, Bayswater, geleë.