Ek lees onlangs ’n lys van waarhede oor die lewe. Een van die aanhalings lees: “Overthinking kills happiness.” Dit val my op en ek krabbel dit iewers neer.
Later rol ek dit in my gedagtes rond soos ’n cowboy wat twak in sy wangholtes pruim.
Dis nou maar eenmaal hoe my brein bedraad is: om ’n ding of ’n situasie uit te torring om die ware motiewe te ontbloot. Sekerlik is dit ’n goeie karaktereienskap vir oorlewing in ons hedendaagse bestaan, dink ek.
Daar is hopeloos te veel mense wat kwade bedoelings koester en nie skroom om die bose dade by die gedagtes te voeg nie.
Aanvanklik voel ek die stelling is oordrewe: Hoe kan te véél dink geluk vermoor? Maar met nadenke (ironies, nie waar nie?) besef ek dit hou tog waarheid in. As ’n mens elke situasie tot op die been dissekteer, verloor jy maklik die spontane, vreugdevolle ervaring daarvan.
Jy konsentreer so intens op die bedekte nuanses van menslike gedrag dat die genot van die oomblik bederf word.
Óórdinkery maak die hart swaar, kompliseer dinge en ontneem ’n mens van baie genot.
Kyk maar na kinders. Hulle beleef die wêreld met onskuld, sonder komplekse vrae of ingewikkelde teorieë. Hulle glo maklik. In Kersvader, die tandemuis en ook in ’n onsigbare God wat red.
Die Bybel sê mos ons moet glo soos ’n kind.
Maar waarom verloor ’n mens daardie kinderlike onskuld en goedgelowigheid? Ek glo dis omdat die wêreldse gees inkruip en stelselmatig met elke negatiewe belewenis jou goedertrou toets en verswak. Mettertyd leer jy dat alle dinge nie geglo en die meeste mense nie vertrou kan word nie.
Dit laat my dink aan ’n preek wat ek ’n ruk terug gehoor het.
Dit handel oor twee soorte mense – die eerste soort word deur die wêreld verander, en die tweede soort mens bring verandering in die wêreld.
Dis die tweede soort wat ek graag wil wees.
Hierdie mens straal sekere waardes en gedrag uit en bring so transformasie in haar invloedsfeer. Bestaan daar werklik sulke mense en kan één mens waarlik ’n verbetering meebring, wonder ek.
Al beskou ek myself as taamlik optimisties, moet ek erken dat die samelewing gou-gou my entoesiasme smoor.
Nes ek my balans op die golf van positiwiteit kry en ek heldhaftig die wêreld ’n ding of twee wil wys, gooi die brander my af en ek moet seesand tot nadenke eet. Maar sekerlik moet daar ’n beter uitweg as sinisme wees? Dan onthou ek: Daar is Één wat altyd betroubaar is.
Sy bedoelings hoef nooit bevraagteken te word nie en hoe meer ek aan Hom dink, hoe gelukkiger voel ek.
Deur sy Woord te oordink verbeter my vooruitsig vir ’n wonderlike toekoms in ’n land vol van sy eiesoortige probleme, maar ook boordevol met kreatiewe, gelowige en passievolle mense.
Dit laat ’n mens dink, nie waar nie?